Die motor waarin die rowers gevlug het, is in Philippi-Oos gevind.


Gewapende rowers het net ná 09:00 Woensdag 11 Augustus Saldanha Spar geteiken waar hulle personeel met ’n vuurwapen in die kontantkantoor aangehou het.

Volgens AO Yolanda Kotze, woordvoerder van Saldanha-polisie, was twee personeellede in die winkel se kontantkantoor toe hulle deur ’n rower met ’n vuurwapen verras is.

Die rower het die vuurwapen op die personeel gerig. Hy het glo die een personeellid gevra om die ander een met kabelbinders vas te bind waarna hy self die tweede personeellid vasgebind het. Kotze sê die rower het met meer as R114 000 in ’n rugsak uit die winkel gevlug en by die parkeerterrein in ’n swart-grys Toyota-sedan, na bewering saam met twee ander rowers geklim, voor hulle weggery het.

Kotze sê die polisie het die motor minder as twee ure later verlate in Philippi-Oos gevind. Die wapen en die kontant was steeds in die motor. Dit is tans nog nie bevestig of al die kontant wat gesteel is, teruggevind is nie.

Die drie verdagtes is nog soek. Enigeen met inligting word vriendelik versoek om AO Johannes van Antwerpen by 022 714 8333 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article