Weslander verwelkom sy nuwe redakteur, Maryke Swart.
Swart (32) het Maandag 10 Januarie haar nuwe rol as redakteur van Weslander en Weskus Nuus begin speel.
Joernalistiek het haar in graad 7 begin interesseer toe daar van haar klas verwag is om ’n taak te voltooi vir ekonomiese en bestuurswetenskap oor hul droomberoep. Swart het so veel moontlik oor die beroep nagevors wat net ’n verdere belangstelling by haar geprikkel het – tot groot verbasing van haar vriende omdat sy altyd die skaam en teruggetrokke een in haar vriendekring was.
“Ek was nog altyd lief daarvoor om na mense se stories te luister, om uit te vind hoekom hulle sekere keuses maak, wat hulle dryf, waarheen hul lewensreis hul geneem het en watter lewenslesse hulle langs die pad geleer het.”
Swart het ná matriek aan die Hoërskool Gimnasium Paarl haar BA-graad in mediastudies aan die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) in Bloemfontein voltooi en in 2011 haar loopbaan by Media24 begin by die destydse Vrystaat-gemeenskapskoerant in Bethlehem (nou VrystaatKroon). Sy het vir twee en ’n half jaar as joernalis vir die dagblad Volksblad, ook in Bethlehem, gewerk voordat sy in 2013 teruggekeer het na haar tuisdorp om as joernalis by Paarl Post te werk.
Daarna het sy by DistriksPos in die Strand gewerk en is later in 2018 aangestel as nuusredakteur van die Swartland Gazette in Malmesbury waar sy die afgelope drie jaar werksaam was.
Oor die nuwe fase in haar lewe vertel Swart dat sy verskriklik opgewonde en dankbaar is vir die vertroue wat in haar gestel is om Weslander vorentoe te dra.
“Maar terselfdertyd voel ek ook ’n groot verantwoordelikheidsin om die gemeenskap week ná week van ’n gehalteproduk te voorsien. Ek voel tog gerus in die wete dat ons ’n wonderlike span joernaliste het wat uitstekende werk lewer en regtig goed in hul gemeenskappe geïntegreer is om weekliks geloofwaardige en insiggewende berigte te lewer,” vertel sy.
Swart het vir die afgelope 10 jaar die geleentheid gehad om verder te studeer en haar leierskapsvaardighede te ontwikkel. “Ek was nog altyd lief vir die Weskus en het dikwels as kind hier gekom, so hierdie posisie gee my die geleentheid om my liefde vir koerantwese voort te sit en terselfdertyd die Weskus en sy mense goed te leer ken.”
Dus is sy slaggereed vir hierdie nuwe pos.
Swart glo dat Weslander nog altyd sy gemeenskap goed bedien het met relevante, geloofwaardige nuus en unieke inspirerende stories wat eie is aan die Weskus en sy mense.
“Ek hoop dus om daarop voort te bou en om my eie stempel daarop te sit om soos vroeër genoem weekliks lesers van ’n gehalteproduk te voorsien wat hulle daarna sal laat uitsien om op ’n Donderdagoggend die koerant te koop en oor ’n koppie boeretroos te lees.”





