Die Vredenburgse inwoner Lena Waterboer het weereens haar hart oopgemaak en aan haar gemeenskap in die feestyd teruggegee.

Sy het Sondag 19 Desember ’n Kersfeespartytjie en ’n ware Kersfees-ervaring aan baie in die gemeenskap gebied.

Waterboer is bekend vir haar jaarlikse Kerspartytjies en het vir 170 kinders en 50 bejaardes voorsiening gemaak.

Die kinders het lekkergoedpakkies en koek gekry en die bejaardes het ’n geskenk ontvang wat ’n waslap, handdoek, vrugte, koeldrank asook koek ingesluit het.

Waterboer het die projek in 2018 begin waar sy vir omtrent 120 kinders lekkergoedpakkies uitgedeel het. In 2019 het die kinders tekkies ontvang en in 2020 het 150 kinders lekkergoedpakkies gekry.

Altesaam 32 bejaardes het ook lekkergoedpakkies ontvang en die vroue is met krale en oorbelle bederf.

Waterboer vertel dat sy hierdie projek jaarliks uit liefde vir haar medemens doen. “Ek sal nooit vergeet waarvandaan ek as kind gekom het nie. Ons as kinders het in moeilike omstandighede grootgeword en dit was nie maklik nie – dis hoekom ek die feestyd maklik wil maak met die bietjie hulp en ondersteuning wat ek kry.

“Al kon ek nie vir almal gee nie, is dit die klein goedjies wat tel in die lewe.”

Waterboer wil graag die Speaker, Olwene Daniels, sowel as Amanda Kotze, eienaar van The Lighthouse, Berenice Koenana, Regina Louw en Willow Isaac vir hul bydrae en ondersteuning bedank.

Waterboer het ook op Kersdag (25 Desember) 100 mense se dag spesiaal gemaak deur kospakkies uit te deel.

Sy het Gerrit Koenana en Berenice Koenana bedank vir hul hulp daarmee, asook twee Samaritane bedank vir hul bydraes.

“Alles word opreg waardeer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article