Wyle Brendon FortuinFoto: Verskaf


Vyf sake van strafbare manslag word tans deur die plaaslike polisie ondersoek.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, ondersoek die Vredenburg-polisie drie klagtes van strafbare manslag wat verband hou met padongelukke in Desember en een wat in Januarie gebeur het. Die Hopefield-polisie ondersoek ook een soortgelyke sterfte wat in Desember aangemeld is.

In die jongste van die genoemde voorvalle, het Brendon Fortuin (25) tragies op 7 Januarie gesterf – die dag waarop sy jonger boetie 18 geword het.

’n Vriend van die familie het Vrydag die slegte tyding van Fortuin (25) se dood aan sy ma, Catheline Filies, oorgedra.

Dié familievriend het glo Vrydagmiddag van die werk af gekom en verby die ongelukstoneel op die R45 gery waar Fortuin naby die Vredenburg-stortingsterrein gesterf het.

Volgens Catheline het die vriend dadelik na hul huis in Witteklip (Hopland) gery om haar te verwittig dat iemand haar seun op sy fiets raakgery het.

“Dis vir ons ’n groot skok dat Brendon dood is,” het Catheline namens haar en haar man, Albertus Filies, aan Weslander gesê.

Sy sê haar seun was werkloos ten tyde van sy dood. Sy weet nie waarheen hy onderweg was toe hy raakgery is nie, maar volgens haar was hy lief vir fietsry en was gereeld op sy fiets te sien.

Fortuin is in Vredenburg gebore en het daar grootgeword. Hy is die oudste van vyf kinders. Hy word Saterdag (15 Januarie) in die Sentrale Begraafplaas tussen Vredenburg en Saldanha ter ruste gelê. . In nog ’n voorval is ’n negejarige seun Maandag (10 Januarie) in Witteklipstraat, Vredenburg, naby dr. Christo Smith se praktyk op sy fiets raakgery. Die dokter en sy personeel, die bestuurder wat hom per ongeluk getref het, asook verskeie barmhartige Samaritane het die kind te hulp gesnel.

Na wat verneem word, het die seun opgehou asemhaal en is mond-tot-mond-asemhaling en hartmassering op hom toegepas voordat hy gestabiliseer en na die hospitaal geneem is.

Volgens Riana Kruger, die seun se tannie, het klein Luan Van Zyl in die Groote Schuur-hospitaal aangesterk. Hy het wonder bo wonder, geen breuke opgedoen nie. Luan se ma, Anel van Zyl het almal wat haar seun op die toneel gehelp het, bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article