Meer vryheid en vakansiepret het ook meer geweld en padongelukke beteken.

Met die verslapping van Covid-19-regulasies gedurende die feestyd aan die einde van 2021 het meer Weskussers weens geweld, drankmisbruik en padongelukke gesterf, in vergelyking met dieselfde tydperk in 2020.

Vryheid van beweging

Groot was vakansiegangers se vreugde toe die nuus vroeg in Desember 2021 bekend gemaak is dat Covid-19-regulasies nie weer hul feestydpret soos in Desember 2020 gaan bederf nie.

Gedurende die 2020-feestyd is regulasies verskerp weens ’n toename in Covid-infeksies. Hierdie regulasies het onder meer ’n drankverbod, uiters beperkende aandklokreël en die sluiting van alle Suid-Afrikaanse strande ingesluit.

In plekke soos Elandsbaai en Lambertsbaai is teleurgestelde besoekers se vakansies op 29 Desember 2020 summier kortgeknip. Hulle is slegs ’n paar kort uur gegun om hul goed op te pak en met hul tente en woonwaens terug huis toe te keer.

Besiger paaie lei tot meer padongelukke

Ten spyte van groot ontevredenheid oor die regulasies van die 2020-feestyd wat talle mense se vakansies in die wiele gery het, is wetstoepassingsowerhede en gesondheidsdienste aan die Weskus dit eens dat die streng reëls van Desember 2020 tot minder noodlottige padongelukke, geweld en moorde gelei het.

Alhoewel die vierde vlaag Covid-19-infeksies vroeg in Desember 2021 getref het, het die Omikron-variant mense volgens kenners nie so ernstig siek gemaak soos die vorige variante nie en is regulasies verslap. Mense was dus weer vry om snags rond te ry, drank te koop en die strande te geniet.

Des Paton, streekdirekteur van provinsiale verkeersdienste vir die Weskus, sê die sterftes en beserings op Weskuspaaie het redelik gestyg in Desember 2021 en Januarie 2022 in vergelyking met die vorige jaar se feestyd. Talle ongelukke het veelvoudige slagoffers in Desember 2021 en Januarie 2022 geëis.

Volgens hom het munisipale gebiede ook ’n styging in voetgangersterftes gesien.

“Spoed, dronkbestuur, mense wat versuim om hul veiligheidsgordels te dra en roekelose bestuur was die afgelope feestyd hoog op die oortredingslys,” het hy gesê. Heelwat dronkbestuurders is in hegtenis geneem.

“Volgens statistieke was daar heelwat meer voertuie op ons paaie. Covid het mense ingehok en Desember 2021 was ’n geleentheid om uit te kom.”

Hospitaalsale stiller, maar…

Volgens Leensie Lotter, woordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid vir die Weskus, het die strenger inperkings van Desember 2020 inderdaad ’n daling in die aantal traumagevalle in die gebied getoon, veral oor die groot feesdae soos Oujaarsaand.

“Die aandklokreël en beperking op alkoholverkope het ’n afname in die aantal gevalle teweeg gebring. In Desember 2021 het ons merkbaar meer traumagevalle gehad, veral wat alkoholverwante trauma betref,” het Lotter verduidelik.

Weens die verslapping van Covid-regulasies en die “swakker” Omikron-variant het die omstandighede by die Life Weskus Privaathospitaal in Vredenburg in Desember 2020 in vergelyking met Desember 2021 ook soos dag en nag verskil. Volgens Annette Olls, die hospitaalbestuurder, is daar ongetwyfeld ’n groot verskil tussen Desember 2020 en Desember 2021 wat hospitaal-innames betref.

Gedurende Desember 2020 tot Januarie 2021 het die hospitaal alle beskikbare toerusting en ventilators gebruik. Slegs een saal het nie Covid-19 pasiënte gehad nie. Personeel is gehuur van ander provinsies om te kom help, want 25% van die hospitaal se personeel is deur die virus geraak. Olls sê spesialiste het skofte in die hoësorgeenheid gewerk om die druk op verpleegpersoneel te verlig. Suurstof is teen ’n vreesaanjaende spoed gebruik.

Volgens Olls is baie mense gedurende die feestyd van Desember 2021 tot Januarie 2022 positief vir die virus getoets, maar net enkele pasiënte is met ernstige simptome opgeneem.

Die Omikron-variant het beteken die hospitaal is minder vol, maar sy sê daar was in vergelyking met die vorige tydperk ’n toename in ongevalle as gevolg van drankmisbruik.

Dr. Jenny van der Merwe wat in die ongevalle-afdeling werk sê egter die beperking van vakansiegangers se beweging weens die aandklokreël in Desember 2020 het inderwaarheid ’n heelwat groter impak as die drankverbod op die hoeveelheid ongevalle in 2020 versus 2021 gehad. Virale gastro-enteritis (maaggriep) en voedselvergiftiging was die grootste rede vir mense se besoek aan ongevalle in Desember 2021.

Verwantskap tussen drankmisbruik en geweld

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisiekluster wat tien plaaslike polisiekantore insluit (onder meer Saldanha, Langebaan, St. Helenabaai en Piketberg), is daar ongetwyfeld ’n verband tussen drankmisbruik en geweld.

Luit.kol. Roland Leibrandt, Vispol-bevelvoerder van Vredenburg-polisie, sê die aandklokreël en inperkings van Desember 2020 het gewis ’n impak op geweldsmisdaad gehad.

In dié tydperk is minder geweldsmisdade gerapporteer en ook baie minder strafbaremanslagsake, in vergelyking met Desember 2021.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article