Twee tienerseuns van die Agterbaai het die wêreld van snoek vir die Jakarandastad verruil.
Bladen Petersen (15) van Laingville en Vincent Roberts (14) van Stompneusbaai het Sondag 16 Januarie na Gauteng gevlieg waar dié twee hul skoolloopbaan by Hoërskool Menlopark in Pretoria gaan voortsit – danksy ’n sportbeurs. Die Hoërskool Menlopark is een van die land se topskole en het al sportsterre en bekendes soos die bekroonde aktrise Jana Cilliers opgelewer.
Dié twee kranige rugbyspelers het opgewonde aan Weslander vertel van hul nuwe uitdagings en die groot drome wat hulle het.
Petersen, wat senter speel, vertel opgewonde dat hy reeds van sy eerste skooldag af rugby speel. Dié vlugvoetige agterlynspeler sê hy is ook ’n kranige atleet en het reeds Wes-Boland in naellope verteenwoordig. “Ek wil graag vir die Blou Bulle speel en wil ook deel van die Springbokke wees wat die wêreldbeker wen,” vertel hy.
Die lenige Roberts sê hy het twee jaar gelede begin rugby speel. Dié veelsydige voorspeler van byna twee meter sê dit is vir hom belangrik om hom eers in ’n span te vestig. “Ek gee nie regtig om waar ek speel nie, maar rugby wil ek speel,” deel hy.
“Dit is natuurlik enige rugbyspeler se droom om vir sy land te speel, maar as dit van my afhang, sal ek eerder nader aan die huis wil speel.”
Dié twee spelers, wat saam by Hoërskool Weston was, vertel dat hulle dié geleentheid gewis met albei hande aangryp omdat so iets sekerlik nie gou weer op hul pad sal kom nie.
Die Hoërskool Menlopark het sy beste sportjaar nóg in 2019 gehad. Van die hoogtepunte was:. Eerste span wen die Virseker-rugbybeker.. Menlopark is een van slegs twee skole waar al vier spanne in die Virseker-beker se halfeindstryd gespeel het.. Menlopark wen ook die algehele trofee vir die beste rugbyskool in die beker-afdeling van die Virseker-reeks. . Menlopark staan in 7’s-rugby ook nie terug nie en verower vir ’n vierde keer in vyf jaar die goue medalje in die Noordvaal-streek vir o.15’s. . In 2019 verteenwoordig 26 spelers die Blou Bulle. . Drie van Menlopark se o.16- en vyf van sy o.17-rugbyspelers word in 2019 vir die Groen SA-elitegroep verkies.




