Voel jy dit ook?
Daar is ’n positiwiteit en hoop in die lug.
Ons leef al amper twee jaar saam met ’n pandemie wat die wêreld verander het, en hoewel ons nog nie vry daarvan is nie, voel dit of ons dit uiteindelik weer kan waag om te droom en te beplan. En hoewel ons steeds verantwoordelik moet optree wat ons en ander mense se gesondheid betref, het ons nou meer geleentheid om byeenkomste (binne perke) te hou. Sommige plaaslike skole het die naweek die eerste keer sedert die begin van die pandemie in 2020 ’n atletiekbyeenkoms gehou.
Ons kinders is regtig die afgelope twee jaar van so baie ontneem.
Ons moenie vergeet dat dit nie net die virus is wat skade veroorsaak het nie. Die sosio-ekonomiese gevolge van die inperkings is verreikend. Aandagafleibaarheidsindroom onder kinders, depressie en ander geestesiektes onder jonk en oud het die hoogte in geskiet.
Twee van die belangrikste lesse wat die pandemie ons geleer het, is dat die mens gewis nie vir afsondering gemaak is nie en ons moet nie toelaat dat vrees ons verdeel nie.
Soveel haatspraak doen deesdae die ronde op sosiale media, en onmin ontstaan tussen vriende weens meningsverskille oor die virus, gepaardgaande regulasies en die entstof. Hierdie haat dra ook by tot die geweldige trauma wat die pandemie veroorsaak. Sit ’n wag voor jou mond, en as jy jou oortuiging wil deel, doen dit met respek en liefde.
“En nou: geloof, hoop en liefde bly – hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!” –
1 Korintiërs 13:13




