Jenny Moors van Weskus Helpers saam met haar twee personeellede, Petronella Fortuin en Kathleen Daniels.Foto: Trish Goosen


“Wie gaan vir die mense sorg as Weskus Helpers ondergaan?”

Só vra ’n raadop Jenny Moors, stigter van dié geregistreerde liefdadigheids­organisasie in Vredenburg.

Mits daar dringend groot finansiële ingryping kom, sal Weskus Helpers wat reeds sedert 2015 die minderbevoorregte gemeenskap van Vredenburg bedien, heel waarskynlik teen einde Februarie sy deure sluit.

Weskus Helpers was voorheen in Saldanhaweg, Vredenburg geleë, maar het ongeveer twee jaar gelede na die instansie se huidige ligging in Stephanstraat verhuis.

Weskus Helpers is reeds twee maande agter met sy huurgeld en volgens Moors is dit die eerste keer sedert die organisasie se bestaan dat daar net eenvoudig nie geld is om die huur te betaal nie.

Weskus Helpers gee een keer per week bejaardes en mense met gestremdhede ’n gesonde maaltyd. Die organisasie het voorheen twee keer per week honderde minderbevoorregte mense by sy sopkombuis gevoed, maar omdat donasies en skenkings oor die tydperk van ’n jaar al hoe minder geraak het, is daar net genoeg kos om die sopkombuis een keer per week te hou.

Die vier slaapkamers van die huis in Stephanstraat is voorheen gebruik om hulpbehoewende of mishandelde vroue en pleegkinders tydelik te huisves en te versorg, maar omdat daar nie meer geld is vir kos nie, kon hierdie diens nie meer voortgaan nie en staan die kamers al vir ’n jaar leeg. Dan is daar ook ’n liefdadigheidswinkel op die perseel wat tweedehandse klere en huisware verkoop om ’n bykomende inkomste vir Weskus Helpers te genereer.

Moors sê sy weet nie wat skeefgeloop het nie, maar sy sê die skenkings het opmerklik sedert Maart 2021 begin minder raak. Sy glo daar het wel skenkings ingekom, maar dit is gesteel.

Volgens Moors het ’n jong plaaslike vrou met ’n tweejarige dogter, wat bekend is aan haar, maar geen amptelike verbintenis met die organisasie het nie, al glo vir meer as ’n jaar “namens Weskus Helpers” klere, kos en geld ingesamel, maar alles vir haarself gevat.

“Ek het op haar spoor gekom toe verskeie mense my gebel het om te hoor of sy by Weskus Helpers werk,” het Moors vertel.

By nadere ondersoek het Moors ontdek die swanger vrou wat in haar laat twintig is, het ook “insamelings” namens ander liefdadigheidsorganisasies gedoen.

Moors sê sy het gehoor iemand het gaan “geld kollekteer” by Huis Wittekruin se bejaardes en sy het ’n sterk vermoede dat dit die einste vrou is wat met Weskus Helpers se naam glo bedrog pleeg. Die vrou is glo deur die personeel gevra om die perseel te verlaat.

Karin Hubbard, bestuurder van die tehuis, het aan Weslander gesê sy is bewus van ’n voorval waarin iemand wat by Huis Wittekruin besoek afgelê het, gevra is om die perseel te verlaat, maar sy het gesê sy weet te min daarvan om werklik te kan sê wat gebeur het. Sy weet ook nie wie die persoon is nie.

Sy wil wel ’n waarskuwing aan die publiek uitreik en vra dat niemand geld of skenkings aan enigeen gee wat hulself voordoen as ’n verteenwoordiger van Huis Wittekruin nie.

“Bel my eerder direk by die kantoor as jy iets wil skenk,” het Hubbard aanbeveel.

Moors het besluit om ’n strafregtelike klagte teen die beweerde bedrieër in te dien en is vroeg in Januarie na die Vredenburg-polisiekantoor om dit te doen.

“Ek het bietjie genade met haar omdat sy swanger is, maar ek het vir die ondersoekbeampte gesê sodra ek van enige ander klagte oor haar by ander mense hoor, gaan ek met die saak voort,” het Moors verduidelik.

Die Vredenburg-polisie het bevestig dat Moors ’n verklaring ten opsigte van die saak by die polisiekantoor kom aflê het.

Volgens Moors doen oneerlike mense wat betroubare liefdadigheidsorganisasies se goeie naam gebruik om hul misdade te pleeg, oneindig skade aan die beeld van hierdie organisasies en ontmoedig die publiek om te skenk.

“Daar is so min mense wat werklik vir arm mense omgee en ek werk my vingers stomp vir die mense vir wie ander nie omgee nie. Ek baklei altyd vir wat reg is en is ’n stem vir die kwesbaarste mense in ons gemeenskap. Wie gaan vir die mense sorg as Weskus Helpers ondergaan?”

Bel Moors by 071 534 3890.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article