Rommel, onkruid en rondlopers wat plunder.
Die omliggende bure van Lochnerstraat 22 in Vredenburg is keelvol vir dié probleem-eiendom in hul midde.
In ’n skrywe aan Weslander het Liza van As namens die gegriefde inwoners gesê Lochernerstraat 22 word as behuising vir polisielede gebruik. Sy sê die huis is egter op 31 Desember verlede jaar ontruim en sedertdien word die eiendom deur rondlopers geplunder.
Volgens Van As gebruik hawelose mense ook die woning as hul toilet en het menslike ontlasting oral in die huis gelê.
“Die inwoners van Lochnerstraat probeer hul bes om die plundering hok te slaan deur ongewenste betreders aan te meld, maar as gemeenskap kan ons net soveel doen,” verduidelik sy.
Sy sê munisipale wetstoepassing en die polisie is baie traag om op hul klagtes oor die rondlopers by die huis te reageer.
“Ons woon al 18 jaar in hierdie straat en het nog nooit gesien dat enige instandhoudingswerk aan die huis gedoen word nie. Dit is moeilik om te glo dat dit van polisielede verwag word om in ’n huis soos hierdie, met stukkende kantpanele op die dak, rou sementvloere en lendelam kaste te woon.”
Weslander het die huis Woensdag besoek en dit is inderdaad binne en buite in ’n baie haglike toestand. Die toilet is uit die muur gebreek en die geiser is uit die plafon geruk. Die erf is met rommel bestrooi en een van die bure het gesê “die besoekers was weer in die nag hier, want die vensters staan oop”.
Wat die plundering van die Lochnerstraathuis betref, het kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, gesê ’n klag van huisbraak met die doel om ’n misdryf te pleeg, is verlede maand by die polisiekantoor aangemeld.
Volgens Helfrich is niemand nog met betrekking hiermee in hegtenis geneem nie.
Dié huis sowel as ’n ander polisiehuis in Tierkloofstraat, wat tans ook onbewoon is, is in Januarie deur rondlopers geplunder.
’n Derde onbewoonde huis wat deur die polisie gebruik word, staan in Nassaustraat.
Weslander het verder met ’n ander bron gesels wat nie op rekord met die media mag praat nie, en verneem die huise is ontruim weens ’n behuisings-toewysingsiklus wat tot ’n einde gekom het.
Dus, ten spyte van verskeie aansoeke, kom dit voor die huise staan tegnies gesproke leeg weens ’n administratiewe rompslomp.
Plaaslike lede van die afdeling visuele polisiëring (Vispol) patrolleer gereeld die eiendomme, maar volgens die bron is die enigste oplossing om verdere skade te voorkom, dat mense so gou moontlik by die huise intrek.
Weslander het ’n navraag aan die departement van openbare werke gestuur met betrekking tot die instandhouding van die Lochernerstraat-huis.
Teen druktyd is geen terugvoering ontvang nie.
Intussen is van die bure so moedeloos dat hulle selfs “bereid is om die eiendom te koop om van die ellende ontslae te raak,” het Van As gesê.





