Die Saldanha-polisie het Maandag, op Valentynsdag, in samewerking met Vital Connection, na verskeie behoeftige bejaardes in die dorp uitgereik.
Vital Connection het kospakkies aan 100 bejaarde huishoudings uitgedeel en die polisie het tuisgebakte koekies en pamflette gegee.
Volgens AO Yolanda Kotze, woordvoerder van Saldanha-polisie, was Maandag se uitreik die 18de keer dat dié jaarlikse projek hoop en vreugde aan Saldanha se bejaardes gebring het.
“Dit was vir my so hartroerend om by die huise te kom en te sien die oumense verwag ons,” het Kotze aan Weslander gesê.
“Baie van hulle het rooi vir die geleentheid aangetrek en een tannie het aan my gesê sy het geweet ons sal weer vanjaar kom.”
Volgens Kotze het verskeie hindernisse weens Covid-19 die afgelope twee jaar gemeenskapsprojekte bemoeilik, maar die groot dankbaarheid onder die bejaardes het Kotze weer laat besef dit is altyd die moeite werd om “deur te druk met reëlings”.
Kotze bedank Emma Cloete wat die 100 pakkies koekies gebak het.




