’n Wildjagter skiet oortollige springbokke op die LCE-landgoed.Foto:


Wreed of wys?

Plaaslike inwoners was so ontsteld oor die Langebaan Country Estate (LCE) se besluit om sy springbok-bevolking uit te dun deur 70 tot 80 bokke dood te skiet, dat besluit is om die proses te staak.

Die uitdunning van die bokke het op 14 Februarie begin, maar het tot vele klagtes gelei en Craig Scott, die LCE se uitvoerende hoof, het Dinsdag (15 Februarie) ’n brief uitgereik waarin hy inwoners laat weet het die skietery is gestaak.

Noël Minnaar, die landgoedbestuurder, het LCE-inwoners verlede Donderdag (10 Februarie) in ’n brief in kennis gestel dat die springbok-bevolking só gegroei het, dat ’n behoefte aan uitdunning ontstaan het.

Volgens die skrywe het die bevolking in die suidelike deel van die landgoed tot 130 bokke gegroei en daar is veral te veel ramme, wat tot oorbeweiding lei. Tussen 70 en 80 bokke sou in die uitdunning, wat tussen 14 en 16 Februarie sou plaasvind, geskiet word sodat uitdunning vir die volgende twee jaar nie nodig sal wees nie. Die bokke sou gedurende die dag en in die nag geskiet word. Minnaar het gesê die bokke sou deur gekwalifiseerde wildjagters op ’n professionele manier uitgedun word.

Hy het in die skrywe gesê LCE het toestemming by Cape Nature, die Langebaan-polisie sowel as LCE se omgewingskonsultant gekry om met die uitdunning voort te gaan en al die nodige dokumentasie verkry.

Die publiek is nie toegelaat om toeskouers te wees nie.

Uitgesproke LCE-inwoners en Weskussers het hulle tot sosiale media gewend en is verdeeld oor LCE se besluit om die bokke uit te dun.

Sommige reken die uitdunning is “wreed en onmenslik” en ander verstaan waarom daar van die oortollige bokke ontslae geraak moet word. Verskeie mense het gevoel die bokke kon verdoof, weggeneem en hervestig word. Ander inwoners is weer van mening korrekte en wettige uitdunning is nie wreed nie en is die beste manier om die probleem op te los.

Charl Baard, ’n inwoner wat jare gelede by die uitdunning van oortollige diere betrokke was, het gesê: “Al stem jy nie saam nie, is dit die beste en mees menslike manier om die taak aan te pak, solank die ouens agter die gewere weet wat hulle doen.”

Hy sê ook hervestiging veroorsaak “meer probleme, die verspreiding van siektes, baie diere sal van stres vrek en natuurlik is daar ’n hoë koste daaraan verbonde”.

Volgens hom is bokkies wat in tuine inkom en heel waarskynlik deur huis­eienaars gevoer word, nie ideaal nie, want hulle leer baie vinnig dat dit makliker is om by die huise rond te hang om ’n happie te eet as om self kos te gaan soek. “Stel jou voor ’n springbok-ram, wat 90 kg weeg, in die gebied met wyfies op hitte. ’n Kleuter dwaal en word aangeval. Wie se skuld is dit? Die enigste ding wat ek anders sou gedoen het, is om in die nag met ordentlike kolligte te skiet aangesien dit inwoners gedurende die dag ontstel.”

Jaco Kotze, ’n Langebaner en raadslid van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), sê hy het verskeie oproepe van woedende inwoners gekry wat oor die skietery in die nag gekla het. Kotze glo ook meer menslike opsies bestaan om van oortollige bokke ontslae te raak, soos die netmetode, en hy voel LCE se bestuur van die uitdunning “was ver van wenslik”. Hy sê ook LCE was veronderstel om aansoek by SBM te doen om in ’n woongebied te skiet.

Patricia Bopape, bestuurder van die Weskus Nasionale Park, het Woensdag aan Weslander gesê die uitdunning en die hervestiging van diere is ’n baie nodige en normale deel van bewaring.

By die Weskus Nasionale Park vind die uitdunning van diere elke paar jaar plaas wanneer dierebevolkings te groot word. Sy sê uitdunning word op ’n menslike wyse deur kundiges gedoen. Sy sê dit word aanbeveel om uitdunning uit die openbare oog te doen aangesien dit vir die publiek ontstellend kan wees.

Scott sê hy is jammer dat die skietery inwoners ontstel het en hy het huiseienaars genooi om alternatiewe voorstelle te maak om die landgoed se wildgetalle te beheer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article