Die Wes-Kaapse provinsiale regering was vol lof vir plaaslike gesondheidsdienste na afloop van die staande komitee se besoek.
Volgens die komitee het die Weskus se mediese personeel hul beste aan pasiënte gegee ten spyte van vele uitdagings, veral tydens die pandemie. Die komitee sê die streek het wel ’n gebrek aan vermoë en verbeterde dienste is nodig.
Deel van die planne om die gebrek aan vermoë op te los, is die lang beplande gemeenskapsdagsentrum vir Vredenburg.
Volgens Leensie Lötter, die departement van gesondheid se Weskus-woordvoerder, sal die fasiliteit soortgelyk wees aan die sentrum in Malmesbury.
“Die ligging van die perseel sal langs die polisiekantoor wees. Volgens die jongste infrastruktuurbeplanning vir gesondheidsfasiliteite van die departement van openbare werke, behoort die konstruksie van die Vredenburg-gemeenskapsdagsentrum in die 2025-’26 boekjaar ’n aanvang te neem,” verduidelik Lötter.
Die sentrum sal help om druk op die Hanna Coetzee-kliniek in Louwville te verlig.
Die gemeenskapsdagsentrum se dienste sal onder meer akute sorg, chroniese sorg, kindergesondheid, jeuggesondheid, rehabilitasiesorg, mondgesondheid asook dieetkundige en voedingsdienste insluit.
Die personeel van die Radie Kotze-hospitaal in Piketberg is ook uitgelig vir hul diens wat “streef om dieselfde dienste as ’n volwaardige streekshospitaal te bied”. Dit ten spyte daarvan dat die hospitaal as ’n klein en diep-plattelandse hospitaal geklassifiseer is.
Lötter sê die hospitaal het wel steeds net 23 beddens in plaas van die normale 34 beddens.
Die hospitaal moes in Oktober verlede jaar ontruim word weens probleme met die dak.
Lötter sê die volle bedkapasiteit sal eers weer ingestel word wanneer saal A en B se dak herstel is, asook die ander beplande opknappings by die hospitaal voltooi is.



