Alle diere het maar hul maniere en ’n ma sal altyd na haar kleintjies omsien – al is sy en haar kleintjies nie dieselfde spesie nie.
Willem en Martha Klaase van die plaas De La Rey buite Dwarskersbos boer met skape en bokke. Dit was dus ’n blye dag toe hulle nuwe lammertjies en drie nuwe skaaphondjies in Januarie kry. Dinge het egter ’n paar dae later skeefgeloop toe die lammertjies en die honde-ma Hannetjie dood is.
“Ons vermoed sy was te veel op en af ná die geboorte,” verduidelik Martha oor Hannetjie. Die skaaphond, wat reeds langer as twee jaar op die plaas “werk”, was lief om in die veld of agter die bakkie aan te hardloop. “Ons het haar later gesoek en gesoek, maar ons kon haar nie kry nie. Ons vermoed sy het te veel ná die geboorte gebloei. Dit was baie hartseer. Sy is die een met wie ek altyd gepraat het as ek hier buite besig was,” vertel Martha.
Skielik was ’n mamma-bok sonder lammertjies en twee hondjies sonder ’n ma. Alberto, Martha se seun, het egter ’n plan gehad. Hy het besluit die beste sou wees om mamma-bok twee “aangenome” kleintjies te gee. “Hy was heel bedrywig met die hondjies en ek was nog ’n bietjie kwaad, want dit was dieselfde tyd as my verjaarsdag. Sy plan het egter goed gewerk en nou vind ons darem troos daarin dat die ma en kleintjies bymekaar is,” vertel Martha.
Sedert Alberto se blink idee gaan die nuwe gemengde gesinnetjie goed aan. Martha sê die reuntjie en tefie was Maandag ’n bietjie verbouereerd toe hul “ma” met die ander bokke veld toe is.
“Hulle het op en af gehardloop op soek na haar en kon nie verstaan waarheen sy dan nou is nie.”
Later die middag was almal weer saam en Martha sê die twee weet nou hulle moet wag vir hul ma om melk te suip. Die tweetjies het nog nie ’n naam nie en Martha sê dit is ’n daaglikse gestry tussen haar en Willem om op name vir die hondjies te besluit. Vir nou pla dit die kleintjies niks nie, solank mamma-bok aan die einde van die dag net kraal toe kom.
“Ons boer reeds 38 jaar – 11 jaar hier in Dwarskersbos – maar dit is die eerste keer dat ons só iets sien, maar die diere het mekaar gewis gevind. Dit is ’n groot troos dat die bok nou kleintjies het en hulle ’n ma,” meen Martha.





