Was dit padwoede?
Die plaaslike polisie krap nog kop oor die motief vir ’n wrede aanval op ’n man wat half bewusteloos in ’n Volkswagen Polo by die St. Helenabaai-kruising gevind is.
Volgens kapt. Tania Helfrich, klusterwoordvoerder, is die man Sondagmiddag om 16:45 in die Polo met ’n GP-registrasienommer gevind.
Daar was bloed in die motor en die man se beserings was van so ’n aard dat die polisie aanvanklik gedink het hy is in ’n botsing beseer.
Dit het egter gou duidelik geword die man is aangerand. Die man is ná die voorval in die hospitaal opgeneem, waar hy steeds aansterk.
Helfrich sê die man is só erg geslaan dat hy nie die vermoë het om te vertel wat met hom gebeur het nie.
Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord.
Die Polo waarin die man gevind is, behoort glo nie aan die slagoffer nie.
Enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek na die voorval kan help, word vriendelik versoek om die Vredenburg-speurtak by 022 703 6464 te skakel. Inligting sal vertroulik hanteer word.



