“Ons aanvaar die hof se uitspraak, maar sal seker maak dat die verdagte hom by sy borgtogvoorwaardes hou.”

Dít is die woorde van Thyrone Williams, gemeenskapsleier van Laingville in St. Helenabaai en proporsionele raadslid van die Saldanhabaai-munisipaliteit van die gebied, nadat die verdagte in ’n saak van verkragting en ernstige aanranding op Woensdag 2 Maart op borgtog van R5 000 vrygelaat is.

Die voorval wat Saterdagnag 5 Februarie in Steenberg’s Cove gebeur het, het die gemeenskap geruk, maar ook verenig. Volgens die slagoffer (23) wou sy nie meer in ’n verhouding met die verdagte wees nie. Sy vertel hy het haar gedreig en aangerand.

Ná die voorval het sy glo in ’n sloot in die buurt geval waar lede van die gemeenskap later op haar afgekom het ná die vermeende aanranding.

Die verdagte, wat nie in St. Helenabaai mag kom voordat die saak afgehandel is nie, mag ook nie kontak met die slagoffer hê nie.

Die hof het gehoor die verdagte het geen vorige veroordelings nie en is ook nie ’n vlugrisiko nie. Hy het ook ’n vaste adres in Kaapstad verskaf waar hy sal bly vir die verloop van die hofsaak.

Hy verskyn weer op Dinsdag 5 April in die Vredenburg-landdroshof.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article