Die bejaarde vrou wat sedert Desember vermis word, se liggaam is by die ou Saldanha-begraafplaas gevind.
Hendrika de Wee (76) het verdwyn nadat haar versorger haar op 18 Desember verlede jaar laas gesien het.
Weslander het vroeër berig die polisie is op soek na wenke uit die gemeenskap wat moontlik met die opsporing van De Wee kon help.
Volgens AO. Yolanda Kotze is De Wee se lyk op 2 Maart deur ’n lid van die publiek by die ou Saldanha-begraafplaas, wat nie meer in gebruik is nie, in Kampstraat langs die Saldanha-woonwapark gevind.
Kotze sê De Wee moes al ’n geruime tyd dood gewees het toe sy verlede Woensdag ontdek is, aangesien haar liggaam al redelik ontbind het. Ten spyte hiervan was haar familie steeds in staat om haar identiteit by die lykskouing te bevestig.
Magrietha Petro, De Wee se versorger, het in Februarie aan Weslander gesê die bejaarde se verstand was meesal nog goed, maar sy het voor haar verdwyning al hoe meer deurmekaar en vergeetagtig geraak.
Die bejaarde was glo lief vir manlike geselskap en volgens Petro moes sy al ’n paar mans by De Wee se huis “wegjaag”, aangesien sy nie altyd geweet het of hulle goeie bedoelings het nie.
Petro het die bal einde verlede jaar aan die rol gekry om vir die bejaarde plek in ’n ouetehuis te kry, maar volgens die versorger het De Wee volstrek geweier om uit haar huis te trek.
Volgens Petro was De Wee lief vir haar vryheid en sy het nie daarvan gehou om voorgesê te word nie.
Nadat Weslander se eerste berig oor De Wee se verdwyning in Januarie verskyn het, het lede van die publiek vir Petro kom sê hulle het De Wee op verskeie geleenthede saam met ’n man in die dorp gesien stap. Petro het hierdie inligting met die polisie gedeel.
Petro het vermoed De Wee het moontlik weggeloop om die ouetehuis te ontduik. Wat daarna met haar gebeur het, is steeds ’n raaisel.
Volgens Kotze is ’n geregtelike doodsondersoek geopen. Konst. Nhlakanipho Gumbi ondersoek die saak. Die lykskouing sal bepaal of enige misdaad betrokke was en of De Wee aan natuurlike oorsake gesterf het.
Enigeen wat inligting oor De Wee se verdwyning en dood het, word vriendelik versoek om konst. Gumbi by 022 714 8300 te bel. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.





