Die fotograwe Phillip en Meagan Peters.


Die beroep as fotograaf is nie altyd maanskyn en rose nie – daarvan kan die fotograaf Meagan Peters getuig.

Volgens Meagan het sy, soos baie ander, die wrang indruk gehad dat fotografie bloot om ’n mooi kamerasak, die beste toerusting en wonderlike avontuur draai.

Alhoewel daardie elemente wel deel van dié werk is, voeg Peters by dat ’n klomp dinge agter die skerms moet gebeur om in die finale produk te voorsien, maar uiteindelik gee die beroep haar vreugde.

Meagan en haar man, Phillip Peters, albei van Vredenburg, se reis in die fotografiebedryf het begin nadat Phillip Vizhen Photography in 2019 op die been gebring het. Phillip, wat ook ’n fotograaf is, het sy idee en visie met Meagan gedeel en so is hul droom met die hulp van mense na aan hulle bewaarheid.

Phillip verduidelik sy liefde vir fotografie het aanvanklik in die kerk begin. “Ek het die basiese beginsels van fotografie by iemand geleer en toe die geleentheid gekry om foto’s in die kerk te neem. Dis waar ek besef het ek het ’n oog vir fotografie,” vertel Phillip.

Deur homself meer te leer oor fotografie, het hy homself meer kundig gemaak.

Net so het Meagan haarself meer geleer en talle aanlyn kursusse voltooi.

Meagan en Phillip neem graag foto’s by troues en verjaarsdae en neem ook portretfoto’s. Wanneer dit by Meagan se beste fotosessie kom, is dit moeilik om een uit te sonder. “Elke fotosessie bring soveel vreugde en ek leer elke keer iets. Om met al die verskillende persoonlikhede te werk, is wonderlik,” vertel Meagan. Phillip voeg by dat fotografie spesiaal is omdat dit ’n oomblik vir ewig vasvang.

Phillip en Meagan wil ander mense help om ook oomblikke vas te vang deur die kennis wat hulle opgedoen het, oor te dra. Dit kan hulle moontlik help om ’n beroep daaruit te maak.

Hulle moedig mense aan om nie hul drome prys te gee nie en nie aan hulself te twyfel nie.

“Wees vreesloos vir jou passie. God het net planne vir voorspoed,” sluit Meagan af.

Kontak gerus die fotograafpaar by 063 978 1359.. Hierdie berig is deel van ’n reeks oor klein entrepreneurs wat in Weslander geplaas word. As jy ’n klein entrepreneur is en ’n storie het om te vertel, stuur e-pos daaroor na noluvu.ludidi@media24.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article