“Of jy dink jy kan, of jy dink jy kan nie – jy is reg.”
Hierdie bekende en treffende aanhaling van Henry Ford, stigter van die Ford-motormaatskappy het al dekades lank baie mense se lewe getransformeer.
Die Weskusser, Gerald January is een van hulle. Hy laat nie toe dat gestremdheid in sy pad staan nie.
January is van sy nek af ondertoe verlam, maar hy leef steeds ’n doelgerigte, vervulde en gelukkige lewe.
Hy gryp elke goeie geleentheid aan wat hy kry en het Saterdag weer die geleentheid gekry om saam met die span van Extreme Abilities in Paternoster te gaan branderry.
Die organisasie Extreme Abilities spesialiseer in aangepaste branderry wat mense met gestremdhede ook die geleentheid gee om aan watersport deel te neem. Dit is deur Dries Millard, internasionaal gerekende gestremde branderryer, gestig. January het voor sy ongeluk, sowat 20 jaar terug, op ’n vissersboot gewerk toe hy van ’n hoogte af geval en sy nek gebreek het.
Hy het aan Weslander vertel dat hy aanvanklik platgeslaan was oor sy verlamming, maar dat hy met ’n positiewe gesindheid en geloof in die Here bo sy omstandighede uitgestyg het.
Hy is deesdae ’n bestuurslid van die West Coast Disability-forum waar hy homself vir die lewensgehalte en regte van plaaslike mense met gestremdhede beywer. Hy is sedert 2011 by die organisasie betrokke, maar die West Coast Disability-forum is egter eers in 2015 amptelik geregistreer.
Hy het Saterdag se branderry-sessie by Paternoster baie geniet en hy sê dis die tweede keer dat hy van die geleentheid gebruik gemaak het.
“Ek was die vorige keer bietjie skrikkerig toe hulle my in die water getel het, maar die span doen ongelooflike goeie werk en ek het gou gemaklik en veilig in hul hande gevoel,” het January vertel.
Chrisna du Plessis, stigter van die Siyabonga Care Village – moeder-organisasie van onder andere Huis Cornelius waar January woon – het gesê hy het nie gehuiwer om die uitnodiging te aanvaar toe Extreme Abilities hulle weer onlangs genader het oor Saterdag se branderry-geleentheid nie.
“Ons stap al ’n lang pad saam en ek is baie trots op Gerald se prestasies en die manier hoe hy sy fisieke beperkings met blymoedigheid oorkom,” het sy gesê.
January reken as hy kan surf, kan enigiemand!





