Nou kan almal die see geniet.
Toegang tot die strand op Yzerfontein is nou vir almal moontlik. Die oprit wat die afgelope twee maande opgegradeer is, is Saterdag 26 Maart amptelik geopen en aan die publiek bekend gestel.
Weslander het vroeër berig oor die splinternuwe oprit wat dit nou vir mense met gestremdhede, gebreke, bejaardes of selfs ’n stootwaentjie vir babas moontlik maak om die strand op hul gemak te bereik (“Rolstoelvriendelike oprit byna voltooi”, 3 Maart 2022).
Die inspirasie agter die langverwagte en nodige ontwikkelingsprojek is te danke aan drie plaaslike inwoners – die jong Charlie McNeil Wheatley en die tweeling, Annika en Chené Venter, wat elk aan ’n skaars vorm van serebrale ataxia ly, en sal nou saam met alle besoekers Yzerfontein se strand kan geniet.





