Duurder water, elektrisiteit en munisipale dienste wag op inwoners van die Saldanhabaai-munisipaliteit.

Die munisipale raad het Donderdag (31 Maart) die 2022-’23-konsepbegroting bekend gestel.

Die voorgestelde munisipale tariewevir water (basiese heffing) styg met 4% van R105 tot R109,40. Vullisverwydering sal belastingbetalers ook 4% meer uit die sak jaag. Riooldienste styg met 11%. Dié hoër as gewoonlike jaarlikse styging is weens dié dienste wat nie gelykbreek nie. Die tarief wat egter inwoners se sakke die meeste gaan ruk, is die voorgestelde styging van 7,47% in elektrisiteitspryse. Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) moet egter steeds dié verhoging goedkeur.

Vir sukkelende huishoudings in die munisipale gebied is daar egter verligting. Huishoudings met ’n inkomste van minder as R5 500 kwalifiseer vir ’n volle deernis-subsidie. In huishoudings met ’n inkomste van tussen R5 501 en R6 200 sal ’n 70%-subsidie toegestaan word.

Inwoners wat vir ’n deernis-subsidie kwalifiseer, sal maandeliks 50 eenhede elektrisiteit, 6 kF water en gratis vulliswyderings- en sanitasiedienste van die munisipaliteit vir ’n erf van 250 m² ontvang. Volgens die munisipaliteit is ’n kwart van huishoudings in die munisipale gebied deernis-gevalle.

Wat die kapitaalbegroting betref, sal 75% van die geld na verwagting aan infrastruktuurprojekte bestee word. Die grootste kapitaalprojekte in die begroting sluit in die ontwikkeling van die nuwe munisipale kantoor (R85 miljoen), die Britanniabaai-afvalwaterbehandelings­werke (meer as R40 miljoen) en die rehabilitasie en herseël van verskeie paaie (R30 miljoen). Hierdie projekte sal oor ’n periode van drie jaar aangepak word.

Die volledige konsepbegroting kan op sbm.gov.za verkry word en kommentaar kan tot 27 April gelewer word. Die goedkeuring van die finale begroting sal na verwagting op 31 Mei geskied.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article