Shannon Brandt, fasiliteerder van GreenCape, saam met die groep by die “Climate Change Champ”-werksessies.


Wie is beter om ’n gemeenskap oor belangrike sake in die streek in te lig as gemeenskapslede self?

Dit is die idee agter GreenCape se werksessies wat verlede week in Saldanha met plaaslike gemeenskaps­organisasies gehou is. Die twee dae lange sessie is deur GreenCape ontwikkel om gemeenskapsleiers, organisasies en onderwysers te kry om ’n “Climate Change Champ” te wees.

“Ons wil mense se vaardighede opbou om hul gemeenskap oor klimaatsverandering in te lig. Baiekeer dink mense klimaats­verandering het nie veel met hulle te doen nie, maar hernubare energie en die uitwerking van klimaatsverandering raak alle gemeenskappe,” meen Mary Faulks-Fairweather.

Faulks-Fairweather, die program­bestuurder van GreenCape, en haar kollegas het Donderdag en Vrydag plaaslike gemeenskapslede se fasiliteringsvaardighede opgeskerp en later meer oor klimaatsverandering vertel.

Altesaam 20 Weskussers was deel van die groep wat op hul beurt na hul onderskeie organisasies en gemeen­skappe gaan om kampvegters vir bewaring en bepleiting aan te moedig. Volgens Faulks-Fairweather is die doel nie om gemeenskapsaktiviste daar te stel nie, maar liewer om inwoners te kry om kampvegters vir hul gemeen­skappe te wees.

Deelnemers aan die sessies het gesê dit was nie net goed om met inligting bemagtig te word nie, maar ook goed om ander plaaslikes te ontmoet wat soortgelyke kwessies aanpak.

Naydine Paul van die Trailblazer-stigting sê dit was wonderlik om te sien sy is nie al een wat rommel optel of oor herwinning omgee nie. “Die jeug sal, as die toekomstige leiers van organisasies, in magtige posies wees en indien ons hul denkwyse kan verander, kan ons ’n samelewing hê waar die wêreld en alle lewende organismes gewaardeer en gerespekteer word,” sê Paul.

Darryl Dreyer van ISA-omgewings­dienste sê deel van die impak van die werksessies is om ’n beter netwerk onder plaaslikes te skep wat die groen­ekonomie in die streek sal versterk.

Benewens die werksessie hoop GreenCape om omgewingsklubs by skole te stig of te ondersteun, onderwysers op te lei en saam met plaaslike owerhede te werk om hul omgewingsbeleide daar te stel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article