“Baie mense het deur die jare hard gewerk en moet kry wat hulle toekom wanneer dit by hul pensioengeld kom.”
Só sê Rosetta Storm (72), ’n inwoner van Vredenburg.
Met die hulp van die Civil Servants Pension Redress Movement (CSPRM) en ’n kandidaat wat hulle sal kan verteenwoordig op die raad van die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) word gehoop dat regstellings van betaling sal plaasvind.
Die CSPRM is in 2019 gestig nadat benadeelde staatsdiensamptenare wat tot die pensioenfonds bygedra het, nie al hul pensioengeld ontvang het nie.
Lennie Davids, voorsitter van die Weskus-CSPRM, sê die proses van uitbetalings was die gevolg van onderhandelinge tussen die unies en die staat. “Voorts was dit die gevolg van diskriminasie in die pensioenfonds gedurende die apartheidsera. Honderde duisende staatsamptenare het nie geweet van die proses nie en was nie behoorlik ingelig om aansoek te doen vir die regstellings nie.”
Storm is een van daardie werkers. Sy het haar alles gegee wanneer dit by haar werk gekom het. Sy het in 1989 in die linnebank by die Vredenburg se provinsiale hospitaal begin werk, waar sy eers as skoonmaker gewerk het. Storm sê daar was wel diskriminasie in die apartheidsera en dat sy op tye misbruik was.
“Ek moes vrou-alleen swaar wasgoedtrollies in en uit die hospitaal stoot, soos ’n man. Partykeer moes my man my kom help,” vertel sy.
Alhoewel Storm vandag pensioengeld kry, weet sy dat sy nie alles ontvang wat aan haar verskuldig was nie. “Ons is ’n onreg aangedoen en dit moet reggestel word. In daardie tyd kon baie nie lees of papierwerk verstaan nie; jy het maar net gegaan op wat vir jou gesê is.”
Storm voeg by dat lewenskostes al hoe hoër word en dat mense swaarkry met die bietjie wat hulle het. “Baie kry so swaar dat hulle nie eens ’n blikkie vis vir Paasfees kan koop nie.” Storm moedig ander aan om deel te word van die CSPRM sodat hulle ook die nodige hulp kan kry.
David Jantjies, die nasionale voorsitter van die CSPRM, is die kandidaat vir die GEPF waarvoor lede van die CSPRM kan stem. Om vir hom te stem, bel Lennie Davids by 082 377 1205. Stemme is oop tot Dinsdag 31 Mei.




