Covid-maatreëls se dae is dalk getel, maar daar is geen einde in sig vir die koronavirus nie.
Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het Woensdag (13 April) weer ’n digitale nuuskonferensie gehou om die jongste inligting oor die koronavirus te deel. Volgens Cloete het gevalle in die provinsie ’n plato bereik met sowat 290 nuwe gevalle wat daagliks aangemeld word.
Hospitalisasies weens die virus is gemiddeld 19 per dag met twee sterftes per dag, soos gemeet teen verlede Woensdag.
Gevalle in plattelandse gebiede is oor die algemeen af, maar in die Weskus is gevalle 13% op, gemeet op ’n weeklikse grondslag.
Volgens die departement is ’n nuwe subvariant, BA.4, van die Omicron-variant die afgelope maand opgemerk.
Ten spyte van nuwe subvariante meen Cloete die beste weerstand vir ernstige gevalle van Covid-19 is steeds inentings.
Op die nuuskonferensie het die provinsie en departement hul ongelukkigheid met die voorgestelde wysigings ingevolge die Gesondheidswet ook bekend gemaak.
Alan Winde, Wes-Kaapse premier, meen die voorgestelde wysings is onprakties en nie op wetenskaplike bewyse gegrond nie.
“Dit is ons mening dat baie van die voorgestelde bepalings nie op die jongste beskikbare wetenskap en bewyse gegrond is nie, en dit is soms duur, irrasioneel en nadelig vir die ekonomie en werkskepping. Dit is ook ons ??siening dat sommige [voorstellings] as ongrondwetlik bevind kan word,” het Winde gesê.
Die provinsie meen onder meer die voorgestelde self-isolasie van pasiënte is slegs prakties vir gegoede inwoners wat toegang tot die internet, afleweringsdienste en hul eie badkamers het.
Winde meen die sosio-ekonomiese gevolge van dié regulasies sal teenstrydig wees met die behoefte aan werkskepping en ekonomiese ontwikkeling.

