Die strand langs Sandy Point-hawe is met rommel bemors. Volgens inwoners is dit die onwettige plakkers op die strand wat hiervoor verantwoordelik is.


Haweloosheid, werkloosheid, armoede.

Daar is groot maatskaplike uitdagings in Saldanhabaai se munisipale gebied.

Terwyl werkloses toegelaat moet word om informeel handel te dryf om hul gesinne te voed, kan hulle nie net sommer op enige plek smous nie.

Dieselfde geld vir hawelose mense. Baie inwoners het simpatie met mense wat nie ’n dak oor hul kop het nie, maar hierdie mense kan ook nie onbeheerd op munisipale of private grond plak nie.

Volgens Ethne Lawrence, woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), was daar teen middel 2020 sowat 50 hawelose mense in die munisipale gebied.

Die getal het heel waarskynlik sedertdien gestyg weens die verdere verarming van die gemeenskap weens die impak van die pandemie.

Informele handelaars en permitte

Vroeër in April het ’n foto van ’n plaaslike man wat “kamp” in sy rooi skuiling tussen die bosse langs ’n besige pad in Langebaan ’n debat oor onwettige smouse en armoede op Facebook ontketen. Die man wat na bewering met produkte daar gesmous het, is volgens inwoners wat op die Facebook-plasing kommentaar gelewer het, elders “verskuif”, maar aldus Lawrence was dit nie SBM se wetstoepassingsbeamptes wat die man langs die pad verwyder het nie.

Informele handelaars wat van die hand na die mond leef en noodgedwonge op onwettige plekke handel dryf en die onwettige besetting van grond, of verblyf in persele of geboue, bly ’n groot probleem wat effektief bestuur moet word.

Volgens Lawrence maak die munisipale verordeninge voorsiening vir wettige handelsgebiede wat deur die plaaslike ekonomie-departement aangewys en bestuur word.

“Applikante doen dus aansoek by hierdie departement om goedkeuring te verkry, waarvolgens permitte uitgereik word,” het Lawrence verduidelik.

Die realiteit is egter dat nie elke handelaar of smous ’n permit kry nie en steeds kos op die tafel moet sit.

Die maatskaplike kant van hierdie probleem is egter nie wetstoepassingsbeamptes se verantwoordelikheid nie, maar wel dié van die departement van maatskaplike ontwikkeling.

“Die funksie van wetstoepassing is alleenlik om toe te sien dat permitte aan informele handelaars uitgereik word. Indien iemand nie ’n permit het om handel te dryf nie, word die nodige prosesse gevolg,” het Lawrence verduidelik.

Onwettige besetting

In Februarie vanjaar het Weslander berig oor huise in Vredenburg, waar polisiebeamptes voorheen gehuisves is, wat deur die departement van openbare werke bestuur word en herhaaldelik deur vandale en hawelose mense wat daarin slaap, geplunder word. Terwyl die polisie die mag het om die plunderaars te vervolg en munisipale wetstoepassingsbeamptes by tye kan ingryp, kan hul hulp om die probleem op te los net so ver soos hul aangewese regsgebied strek. Hierdie huise, net soos die toestand van die Vredenburg-polisiekantoor waaroor daar in die verlede by Weslander gekla is, is die verantwoordelikheid van die infrastruktuur-afdeling van die nasionale departement van openbare werke.

In een van die nuutste gevalle het plaaslike inwoners vroeër vandeesmaand gekla oor “plakkers” wat prima strandfront-eiendom in St. Helenabaai langs die Sandy Point-hawe beset en boonop die strand ook na bewering bemors.

Volgens Renier Lategan is hy jammer vir die mense wat daar woon, maar hy het gesê dit kan nie toegelaat word nie, aangesien ’n presedent geskep word en dit ’n deur oopmaak vir nog mense om op die strand te kom “plak”.

Hy sê hy het reeds met verteenwoordigers van die provinsiale regering oor die kwessie vergader, maar nog niks is aan die situasie gedoen nie.

SBM het bevestig dat hy die klagte ontvang en ondersoek gedoen het om te bepaal aan wie die grond behoort.

Volgens Lawrence is daar bepaal dat dié grond ook aan die departement van openbare werke behoort.

Weslander het ’n navraag hieroor aan die departement van openbare werke gestuur, maar teen druktyd is nog geen terugvoering ontvang nie.

“Die munisipaliteit kan slegs dié departement dienooreenkomstig vir verdere aksie inlig,” het Lawrence gesê.

“Daar is bepaalde wetgewing wat die munisipaliteit verhoed om mense te verwyder sonder dat die nodige wetlike prosesse gevolg is,” het sy verduidelik.

Nagskuiling en haweloses

Chrisna du Plessis, stigter van die Siyabonga Care Village buite Vredenburg, wat al jare lank ook ’n kampvegter vir ’n plaaslike nagskuiling vir hawelose mense is, het Dinsdag aan Weslander gesê daar is nog geen vordering gemaak om hierdie droom ’n realiteit te maak nie.

Du Plessis was verlede week by die Wosa-gesprekke (Whole of Society Approach) saam met die munisipaliteit en verskeie ander rolspelers, waar sers. Fagdima Carelse, die Vredenburg-polisie se nuwe maatskaplike misdaadvoorkomende beampte, ’n toespraak gegee het oor haar passie vir minderbevoorregte en hawelose mense en hoe sy in samewerking met die polisie en ander partye hierdie groep mense wil dien.

Du Plessis sê haweloosheid is ’n baie komplekse probleem en hierdie mense is nie altyd op straat omdat hulle nie ’n blyplek of familie het nie, maar soms lei swak lewensbesluite daartoe dat hulle nie meer by hul families welkom is nie.

Almal kan egter nie oor dieselfde kam geskeer word nie. Volgens Du Plessis is sommige van die mense wat uit desperaatheid by Siyabonga kom aanklop, “ordentlike mense wat alles verloor het”.

In ander gevalle het mense se omstandighede en gewoontes daartoe gelei dat hulle verkies om op straat te bly, al probeer hul families na hulle uitreik.

Du Plessis sê Siyabonga sal steeds betrokke wil wees by ’n nagskuiling, maar die finansiering van so ’n 24-uur-skuiling is baie duur. “Hierdie kwessie kan voor die munisipaliteit se deur gelê word om moontlik te help met ’n geskikte perseel. Die departement van maatskaplike ontwikkeling moet dan die projek subsidieer saam met die privaatsektor.

“My hart is seer omdat Siyabonga so te sê weekliks mense wat akkommodasie nodig het, moet wegwys,” het sy gesê.

Nuwe beleid

Volgens Lawrence is die SBM tans besig met ’n konsepbeleid met betrekking tot maatskaplike probleme wat die raad volgende maand op ’n werksessie sal bespreek met die hoop om die probleem beter aan te spreek.

“Hierdie konsepbeleid sal fokus op rolle, mandate, bewusmaking, opvoeding, voorkoming asook inskakeling by gesinne en die breër gemeenskap,” het sy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article