Om positiewe boodskappe deur musiek aan mense oor te dra, is die rymkletsgroep Maintain Music se missie.
Die vier lede van die groep is tussen 19 en 25 jaar oud en is almal van Velddrif.
Die groep is meer bekend as ’n span van vyf, maar een lid het die groep onlangs verlaat.
Carwen Shady sê elkeen het eers sy eie ding in die musiekbedryf gedoen, maar Maintain Music het tydens die inperking begin nadat hulle besluit het om hul talente saam te smelt.
Shady verduidelik dat hulle oor enigiets en alles skryf: “Oor swaar tye of feestelike tye – ons kan enigiets as inspirasie gebruik,” vertel hy.
Die groep het al by verskeie geleenthede opgetree en het selfs ’n paar musiekvideo’s op YouTube bekend gestel.
Hul eerste musiekvideo Geniet vir jou is meer as 5 000 keer op YouTube gekyk, wat die groep net meer gemotiveer het om aan te gaan.
Volgens Shady beteken musiek baie vir die groep en hulle gebruik dit om mense op te hef. “Om ander mense beter te laat voel deurdat hulle na ons musiek luister, laat ons ook goed voel,” vertel Shady.
Keano Sneyders stem saam en sê hul musiek is vir die wêreld. “Dit het ’n manier om jou op te kikker en te laat ontspan. Ons maak gebruik van musiek om ons storie uit te kry en sodoende sal mense ons altyd onthou,” vertel Sneyders.
Shady voeg by Maintain Music glo die Here sal vir hulle deure in die musiekbedryf open en hulle sal met bekendes kan saamwerk en saam met hulle leer en groei.
“Ons beoog ook om self bekendes in die musiekbedryf te word.”





