LynoDMG wil ’n verskil maak met sy musiek.Foto:


Van danser tot rymklet­ser is Shuleihman Behardien heel gemaklik op die verhoog.

Die 25-jarige Vredenburgse inwoner, oorspronklik van Delft, het sy liefde vir rymklets in 2013 begin uitleef.

Behardien, wat meer onder sy verhoognaam as LynoDMG bekend is, het dieselfde jaar by die musiekgroep Young Gifteds aangesluit.

In sy tyd by die groep was die lirieke in sy musiek meer oor liefde en gevoelens. Nou, in sy sololoopbaan, fokus LynoDMG meer op Afrikaanse hip-hop/rap-musiek en die inspirasie vir sy lirieke kom van alledaagse dinge wat om hom en in sy lewe gebeur. “Afrikaanse rymkletsers soos Wolfpak, Cream Machine, Styles en Pika inspireer my ook. Hulle inspireer my om my doelwitte in die Afrikaanse rymklets-bedryf te bereik,” vertel LynoDMG.

Die jong rymkletser is sterk op pad om hierdie doelwitte te bereik. Sy musiekvideo Hustler is meer as 3 800 op YouTube gekyk en 1 000 kykers het dit binne vier dae gesien. “[Dit is] alles te danke aan Public Health Entertainment, Passion Music Productions en SwiinkBeats. Hulle het my bietjie aan die hand gevat gedurende die proses.

LynoDMG sê hy het glad nie die soort reaksie verwag nie. “Ek was geskok toe ek sien dat die video op sosiale media en YouTube so gewild is. Mense het selfs die liedjie gebruik om hul besighede te bevorder.”

Volgens LynoDMG is die boodskap agter die liedjie dat dit nie saak maak wie in jou pad staan nie, jy moet net aangaan en dit doen wat jy wil bereik. “Jy moet risiko’s neem in die lewe om vir jou ’n vaste toekoms te bou. My planne en drome in die musiekbedryf is om dit eendag groot te maak sodat ek terug kan ploeg in my gemeenskap en vir die jeug kan wys dat daar hoop is, dat hulle nie hul lewe hoef weg te gooi en betrokke te raak by bendes en dwelms nie; hulle kan iets positiefs doen met hul lewe.”

LynoDMG het sy eie rymkletsgroep, Baastrap, begin en help jong aspirerende kunstenaars om hul volle musiekpotensiaal te bereik.

Vir hom lê groot planne nog voor.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article