Die Weskus-distrik-sportraad het op Vryheidsdag (27 April) ’n sportdag vir goue oues op die Vredenburg-sportterrein gehou.
Speletjies soos netbal, hokkie, klawerjas, skaak, domino’s en veerpyltjies was aan die orde van die dag by vanjaar se Goue Spele. Agt dienssentrumklubs en bejaardeklubs het aan die Spele deelgeneem. Die lede van die Salkor-atletiekklub en Green Lilies-bejaardesklub het met twee goue en twee bronsmedaljes en twee trofeë in hokkie en netbal geseëvier.
Die hoogtepunt van die dag was egter die danskompetisie.
In dié kompetisie het Piet Dokter van Salkor ’n goue medalje in die mans-afdeling gewen.
Die groep plaaslike atlete vertrek Maandag na Pretoria waar hulle aan die SA meesterskampioenskap sal deelneem. Hier sal die atlete in verspring, diskus, spies, gewigstoot asook stap en 5 000m-draf deelneem.




