Paternoster het Saterdag Vredenburg se tjank behoorlik afgetrap en die span het in die eerste helfte genoeg gedoen om ’n welverdiende oorwinning te verseker. Foto: Yaël Malgas


Paternoster het Saterdag gewys geen span hoef net op te daag om op sy tuisveld te wen nie toe hy Vredenburg 18-13 geklop het.

Pato het ná sy eerste wedstryd in die Boland-grootuitdaagbeker vir die Weskus-streek wat hy teen Young Hearts 13-46 verloor het, homself reggeruk en is ná die loesing steeds onoorwonne.

Paternoster het die wedstryd reeds in die eerste helfte beklink toe die rustydtelling 18-3 in die tuisspan se guns was, en het die tweede helfte rotsvas verdedig. Vredenburg het wel die tweede helfte “gewen”, maar dit was nie genoeg om sy buurman te troef nie. Met die oorwinning het Paternoster ook die kaarte in die streek behoorlik deurmekaargekrap en is nou vyfde op die punteleer.

Die tuisspan het in die tweede helfte talle foute gemaak, wat die Burg Boys in die wedstryd gehou en stelselmatig die agterstand verklein het om binne bereik van ’n oorwinning te bly. Die tuisspan het egter met sy honger vir ’n oorwinning rotsvas verdedig en selfs die besoekers se foute uitgebuit om veld te wen en hulle uit Pato-gebied te hou.

Paternoster sal moet voortbou op sy posisie en die oorwinning oor Vredenburg het gewis sy opponente se aandag getrek. Paternoster het dus hierdie Saterdag die moeilike taak in Saldanha, met die omgekrapte tuisspan wat Saterdag teen St. Helenabaai vasgeval het, wat wag. Pato het egter bewys hy hoef vir geen span terug te staan nie.

St. Helenabaai se Albatrosse het die verdedigende Boland-klubkampioen Saldanha Saterdag in die Agterbaai met die kous oor die kop huis toe gestuur. St. Helenabaai het die riller 15-9 gewen en is tans die enigste onoorwonne span in die streek. Saldanha het ten spyte van die nederlaag sy eerste plek op die punteleer behou aangesien die span vier bonuspunte tot dusver ingesamel het en ook ’n beter punteverskil as St. Helenabaai het.

Die oorwinning was nie net goed vir die span van die agterbaai nie, maar het die deur wawyd oopgegooi met Young Hearts wat slegs een punt agter die vroeë voorlopers is.

St. Helenabaai pak Saterdag Hopefield in die Agterbaai en ’n bonuspunt-oorwinning is ’n moet.

Ander uitslae: Piketberg 13-21 Mamre, Velddrif 17-26 Hopefield en Young Hearts 17-13 Langebaan.

Die naweek se bepalings is: Saldanha t. Paternoster, Vredenburg t. Young Hearts, St. Helenabaai t. Hopefield, Langebaan t. Mamre en Velddrif t. Piketberg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article