Nasionale Kinderbeskermingsweek is van 29 Mei tot 5 Junie gehou en Huis Hadassa se kinders het ook daaraan deelgeneem.
Huis Hadassa is in Vredenburg geleë en is ’n huis van veiligheid vir plaaslike kinders. Die instansie is verbonde aan die Siyabonga Care Village.
Volgens Willdene van den Heever, die maatskaplike werker by Huis Hadassa het die kinders se versorgers tydens Kinderbeskermingsweek ekstra klem gelê op die kinders se regte en verantwoordelikhede.
Die kinders het geverf, deelgeneem aan prettige aktiwiteite en ook geleer om in die tuin te werk en dat hulle ’n verantwoordelikheid teenoor die natuur en die beskerming daarvan het.
Internasionale Kinderdag het op 1 Junie plaasgevind en vanjaar se tema was: “Laat die kinders speel – dis hulle reg”.
Daarom het Huis Hadassa se kinders op hierdie spesiale dag ook lekker gespeel.
“Speeltyd is in elk geval deel van ons daaglikse program, want dit is baie belangrik vir ’n kind se welstand,” het Van den Heever gesê oor die belangrike aspek.



