Gewyde liedere het hartseer in die koel naglug buite die woning opgeklink.

Honderde mense het Dinsdagaand (7 Junie) met kerse by die huis in Witteklip, Vredenburg, opgedaag om medelye te betoon aan die gesin van die sewejarige seuntjie wat net ure vantevore dood aan die voet van die groot Jesusklip-rots in Vredenburg aangetref is.

El-Jay Wallen Meyer (7), ’n leerder van Eden Primêr in Vredenburg, het die naweek weggeraak toe hy laas glo saam met sy maats gesien is.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Vredenburg-polisie, het die polisie Maandag na die seuntjie begin soek nadat hy amptelik as vermis aangemeld is.

Die soektog is Maandag om 23:00 gestaak en Dinsdagoggend voortgesit, waarna El-Jay se lyk by die groot rots, in die volksmond bekend as die Jesus-klip, agter die Weskus Mall gevind is.

Die polisie het bloedbevlekte klere in ’n oop drein naby die toneel gevind en ’n gerug is gou onder omstanders verprei dat hierdie klere moontlik met El-Jay se dood verband kan hou.

Helfrich het egter aan Weslander gesê die bebloede klere word wel ondersoek, maar is heel moontlik verbind aan ’n onafhanklike voorval. El-Jay is in die klere waarin hy vermis geraak het – ’n maroen kappie-trui, ’n denimbroek en tekkies – gevind.

Sy sê die polisie vermoed nie misdaad nie, maar sy kon nie sê of die polisie vermoed dat El-Jay van ’n hoogte na sy dood geval het nie. Sy sê alles is tans net bespiegeling en die oorsaak van El-Jay se dood sal eers bevestig kan word wanneer die lykskouingsverslag ontvang word.

Die aanloop van omstandighede voor die seun se dood is ook nog nie heeltemal duidelik nie en word steeds ondersoek.

Oor die afgelope 50 jaar van die Weslander se bestaan is ’n paar keer in die koerant berig van mense wat van die Jesus-klip, ’n bekende natuurlike landmerk in Vredenburg, na hul dood geval het.

’n Paar gevalle van selfdood, waar mense van die rots afgespring het, het wel voorgekom.

El-Jay se ouers kon nie teen druktyd bereik word vir kommentaar nie.

Eden Primêr se personeel het ook hul innige meegevoel aan El-Jay se gesin in hierdie hartseer tyd betuig.

Helfrich sê die polisie wil ouers bewus maak dat geen wagperiode bestaan voordat ’n kind as vermis aangemeld kan word nie.

“As jou kind – veral kleiner kindertjies – dieselfde dag nie huis toe kom nie, meld dit onmiddellik by die polisie aan,” beveel sy aan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article