Om skrootmetaal in kreatiewe kuns om te skep, is iets waarin Tyrone Huister se passie lê.

Dié inwoner van Hopefield is bedags ’n slagter en snags ’n kunstenaar.

Huister sê sy liefde vir kuns kom van sy pa af, wat ook ’n kunstenaar is.

Met die aanbreek van grendeltyd het Huister, soos baie, meer tyd op hande gehad, en die inspirasie om skrootmetaal in beeldhouwerk om te skep, het hom destyds getref. “Dit is ook ’n dienbare manier om herwinning te doen, en sodoende dra ek tot ’n skoner wêreld by,” spog Huister.

Huister verduidelik dat hy van skrootmetaal gebruik maak “omdat dit redelik beskikbaar is”.

“ ’n Gedagte neem vorm en dan verwerk ek dit prakties, stukkie vir stukkie, soos ’n legkaart, om by die finale produk uit te kom. Elke beeldhouwerk is uniek – ek kopieer nie van ander nie; dit is geheel en al my eie skepping.”

Huister maak gebruik van sweiswerk om die verskillende komponente aanmekaar te sit totdat hy daarmee tevrede is.

“Vir my is dit ’n hoogtepunt om te sien hoe mense op my beeldhouwerk reageer. Hul reaksies wissel van algehele verbasing tot bewondering omdat hulle nie kan glo iemand kan hierdie werke soos steampunk futuristic laat lyk nie.”

Huister sê as ’n mens in beeldhouwerk in skrootmetaal wil spesialiseer, moet jy iemand wees wat kan visualiseer hoe die eindproduk gaan lyk. “Jy moet natuurlik baie goed kan sweis, deursettingsvermoë hê en nie sommer opgee nie.”

Huister voeg by dat hy groot drome het wanneer dit by sy skrootmetaal-beeldhouwerk in die toekoms kom.

Die Huister-skrootmetaalbeeldhouwerk word tans by Brick Galery in Hopefield uitgestal en verkoop.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article