Drie jaar nadat haar huis afgebrand het, word Rosie Kleinsmith se huis uiteindelik herstel en herbou.
Kleinsmith, ’n inwoner van Langebaan, het in 2019 alles in ’n brand weens ’n elektriese kortsluiting verloor. Sy het nêrens gehad om heen te gaan nie en ten spyte van die Saldanhabaai-munisipaliteit se hulp sodat Kleinsmith ’n sinkplaatstruktuur langs haar huis kan oprig, is sy sonder krag, water en veiligheid gelos.
Die slegte lewensomstandighede waarin Kleinsmith geleef het, is nie goed deur Carmen Rodgers, ’n aktivis van Langebaan, beskou nie. Rodgers ken Kleinsmith al jare en het destyds aan Weslander vertel dat Kleinsmith op haar rype ouderdom nie in sulke omstandighede moet woon nie en dat Rodgers daar en dan besluit het om iets aan die situasie te doen.
Bouwerk aan die huis het uiteindelik Donderdag 16 Junie begin.
“ ’n Anonieme skenker van Langebaan het lank terug 1 000 bakstene geskenk en ek het ook vir Bjorn Witbooi van die GOOD-party genader en gevra om my te help om hierdie huis klaar te kry. Hy het sonder huiwering ingestem en vandag staan die gebou amper dakhoogte,” vertel Rodgers.
Rodgers sê die missie met die herstel van Kleinsmith se huis is om haar weer haar waardigheid terug te gee sodat sy in haar laaste jare in ’n gemaklike, warm huis wat sy haar eie kan noem, kan woon. Rodgers sê bejaardes soos Kleinsmith lê haar na aan die hart.
“Ek wil graag ’n versoek rig dat leiers en aktiviste moet uitreik na die bejaardes in hul gemeenskappe. Dit kan sonder politiek gedoen word.”
Rodgers hoop hierdie projek sal gemeenskappe se oë oopmaak dat hulle kan sien as hul net saam hande vat en uitreik na hul medemens, wat alles saam verrig kan word.
Vir die vooruitsigte glo Rodgers Kleinsmith sal teen Julie in haar eie nuwe huis kan woon. Sy bedank almal vir hul bydraes en hulp met die projek.. Nog heelwat skenkings word benodig. Mense wat ’n bydrae wil lewer, kan Rodgers by 072 551 2182 bel.





