Jeugdag (16 Junie) is verlede week deur Velddrif-netbalklub en plaaslike jong spelers gevier.


Jeugdag is verlede Donderdag op die netbalbaan danksy die Velddrif-netbalklub gevier.

“By die Velddrif-netbalklub glo ons die toekoms van die sport lê by ons jeug. Donderdag het ons die jeug in ons gemeenskap betrek en goeie talent raakgesien. Velddrif-netbal het as klub ten doel om altyd in ons gemeenskap terug te ploeg, en daarom kon ons terugploeg deur ’n suksesvolle netbal-kliniek aan te bied, waar ons die jeug ’n bietjie in netbalvaardighede touwys gemaak het,” het Shawn Langley van die klub verduidelik.

Die organiseerders het Francis Pieters en Courtleigh Behr (Stings/Tornado-spelers) wat spesiaal Velddrif toe gereis het om met die jeug te werk, bedank.

Die klub het ook al die opvoeders, klublede en ouers wat die dag ’n sukses gemaak het, Bergrivier se burgemeester, Ray van Rooy, die onderburgemeester, Mario Wessels, en die plaaslike raadslid Audrey Small, vir hul besoek aan die bane bedank.

“Ons as netbalklub sou nie die dag suksesvol kon aanbied sonder die hulp van ons borge nie. Baie dankie vir jul onbaatsugtige bydrae – dit word opreg waardeer,” het Langley bygevoeg.

“Gebruik netbal om jou toekoms in te kleur. Moet nooit ophou baklei vir jou drome nie,” was Pieters se boodskap aan die jeug.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article