’n Plaaslike veiligheidswag is verlede Donderdag in Vredenburg met gesteelde koperkabels in sy besit betrap.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisie, was die polisie se vuurwapens-, drank- en tweedehandse goedere-afdeling besig met roetinepatrollies in Vredenburg toe hulle om 12:30 ’n verdagte man met ’n swaar drasak in Prosesstraat gesien stap het.
Die polisiebeamptes het die man, wat glo ’n veiligheidswag by ’n plaaslike sekerheidsmaatskappy is, voorgekeer en die sak deursoek. In die sak is 11 kg vermoedelik gesteelde koperkabels ter waarde van R3 300 gevind.
“Transnet-amptenare het daarna die kabels as hulle s’n geïdentifiseer,” het Helfrich bevestig.
Sy het ook gesê die wag was van diens af toe hy met die kabels in sy besit gevind is. Hy is in hegtenis geneem en het reeds in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van die besit van gesteelde goedere verskyn.





