Die Saldanha-polisie het met die hulp van hul kollegas en die gemeenskap onlangs vinnig verdagtes vasgevat nadat hulle glo ’n onderneming in Diazville beroof het.

AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, sê ’n werker van Usmanya het die winkel se deure Saterdag (25 Junie) om 17:50 gesluit toe ses onbekende mans op die winkel toesak. Die werker (29) is glo deur die rowers, van wie twee gewapen was, terug in die winkel gedwing.

“Die verdagtes het glo die werker gedreig om geld te oorhandig. Klante in die winkel, wat ’n pa en sy drie kinders ingesluit het, is ook na bewering in die winkel se kombuis gedruk. Gelukkig is niemand in die voorval beseer nie,” bevestig Kotze.

Die verdagtes het te voet met sowat R20 000 en ’n Green Flash-masjien, waarop lugtyd en elektrisiteit gekoop word, gevlug.

Lede van die A-skof was naby en nadat polisie van die voorval verwittig is, het hulle na die verdagtes begin soek. Lede van die K9-eenheid, seegrenseenheid en Saldanha-reserviste het die A-skof bygestaan en die verdagtes agternagesit. “Die verdagtes het in verskillende rigtings weggejaag, maar saam kon die lede vier van die ses aankeer,” verduidelik Kotze.

Dié mans, onderskeidelik 23, 27, 31, en 32 jaar oud, is in hegtenis geneem. Die polisie is steeds op soek na die ander twee verdagtes, maar kon daarin slaag om die gesteelde eiendom te vind en het op twee vuurwapens beslag gelê.

Kotze prys die inwoners wat gehelp het om die gesteelde eiendom, wat die verdagtes in erwe gegooi het toe hulle laat spaander het, terug te kry.

Almal was egter nie so hulpvaardig nie en een inwoner is in hegtenis geneem nadat sy haar vermoedelik aan ’n misdryf ná die rooftog skuldig gemaak het. ’n Vrou (45) is twee dae later in hegtenis geneem nadat die polisie ’n iPhone, wat vermoedelik aan die verdagtes behoort het, gevind het. Kotze sê die polisie het daarin geslaag om die selfoon by haar huis na te spoor. Sy is omstreeks 21:00 by haar huis aangekeer.

“Indien jy gesteelde eiendom vat of koop, maak jy jou aan ’n misdaad skuldig. Mense moet besef die polisie sal teen hulle optree,” waarsku Kotze.

Ten spyte van die sukses word inwoners steeds gevra om na vore te kom met inligting oor die rooftog. Enigeen wat die ondersoekbeampte, sers. Christopher Kleinsmith, met inligting kan help, kan hom by 022 714 8333 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article