’n Man van Diazville in Saldanha is op sy neus en in sy linkerarm gewond nadat hy met die rower wat sy selfoon probeer steel het, gestoei het.

Volgens AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, is die man (37) op 10 Julie om 19:50 in sy huis beroof.

Die twee vermeende rowers het by die slagoffer se huis opgedaag en gesê hulle is op soek na die man wat by die slagoffer kuier.

Die kuiergas het vlugtig met die twee mans wat by die huis aangekom het, gepraat. Daarna het die kuiergas die perseel verlaat.

Kotze sê die slagoffer het toe die twee mans uit sy huis probeer kry, maar een van hulle het hom teen ’n muur vasgedruk, met ’n mes gedreig en sy selfoon geëis.

Die slagoffer het hom egter teëgesit en geweier om sy selfoon te oorhandig.

Gedurende die stoeiery het die vermeende rower die slagoffer op sy neus en aan sy linkerarm met die mes gewond. Die slagoffer se selfoon het uiteindelik uit sy broeksak op die vloer geval en die rowers het daarmee uit die huis gevlug.

Enigeen met inligting oor die voorval word gevra om sers. Khangelani Kabisoyo by 022 714 8300 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article