Groeipyne het talle subkontrakteurs en werkers van die vesel-infrastruktuur-projek gefrustreerd gelaat, maar hulle meen dit is alles deel van die leerproses.
William Morrison is ’n subkontrakteur vir die Baobab-projek, wat tans in die Saldanhabaai- munisipale gebied aan die gang is. Met die projek bied die munisipaliteit internettoegang aan alle inwoners. Die infrastruktuur vir die projek word tans gelê, met Langebaan, Saldanha en die Vredenburg wat reeds voltooi is.
Morrison bieg haakplekke en struikelblokke het voorgekom met werkers wat onder meer nie ten volle betaal kon word nie.
“Ons het gewis ons koppe gestamp, want ons wou die werkers meer betaal. Ons weet wat die behoefte in die gemeenskap is en hoe mense vir werk soek, dus het ons gedink dit sal goed wees om hulle effens meer te betaal,” verduidelik Morrison.
Dié idee het egter nie so goed in die praktyk gewerk nie, bieg hy. Hy sê aangesien subkontrakteurs eers betaling kry nadat die grootste deel van die kontrak voltooi is, het nie almal altyd genoeg geld gehad om werkers betyds te betaal nie.
Daarmee saam moes die koste van toerusting en aftrekkings summier betaal word indien werkers munisipale dienste weens die werk ontwrig het. Dit alles het uitgawes vir die projek verhoog, erken Morrison.
Weslander is ook gekontak deur ’n werker wat gekla het oor betaling van subkontrakteurs.
Morrison sê werkers is betaal, hoewel sommige nog geld geskuld word. “Ons het die omstandighede aan hulle verduidelik en almal sal hul volle betaling ontvang. Niemand het sonder iets weggeloop nie. Sodra ons die volgende fase voltooi, sal ons die werkers van dié fase sowel as uitstaande gelde betaal,” het hy verseker.
Intussen het subkontrakteurs met Zoom Fibre ontmoet om die struikelblokke te bespreek.
Volgens Tanya Lourens, bestuurshoof van Zoom Fibre, word subkontrakteurs vir die siviele werke op ’n per-meter-tarief-basis betaal. “Alle FiFo-subkontrakteurs dien hul eise vir voltooide siviele werke op ’n klusterbasis in, met elke kluster wat gemiddeld vyf blokke insluit. Betaling aan FiFO-bouvennote word weekliks binne sewe dae ná die datum van ’n eis ingedien. Hoofkontrakteurs van FiFO word aan ’n 5%-behoudwaarborg vir ses maande onderwerp, maar alle plaaslike kontrakteurs word ná voltooiing van die werk ten volle betaal.”
Sy voeg by dit is belangrik vir Zoom Fibre om van plaaslike kontrakteurs en werkers gebruik te maak.
Lourens sê tans is 14 plaaslike kontrakteurs, wat aan die voltooide drie dorpe – Saldanha, Vredenburg en Langebaan – van die projek gewerk het, gekontrakteer. “Hierdie projekte word finaal getoets om te oorhandig. FiFO het drie plaaslike maatskappye vir die tussendorpse skakels wat tans gebou word, gebruik,” sê sy.
Lourens sê in party gevalle het plaaslike kontrakteurs aansoek gedoen vir die infrastruktuurprojek, maar nie gekwalifiseer nie. “Ons het geen spesifieke ooreenkoms vir die gebruik van plaaslike subkontrakteurs nie, maar ons streef om minstens 30% van die werk plaaslik te hou. Ons is trots om te meld dat sowat 40% van die werk van Februarie tot Julie 2022 deur plaaslike gemeenskapslede en plaaslike subkontrakteurs uitgevoer is. So het 40% van die mense wat vir die projek aangestel is, die geleentheid gehad om kennis, vaardighede en kundigheid op die gebied van veselinfrastruktuur op te doen en ons hoop om hierdie persentasie geleidelik te sien toeneem namate ons meer en meer plaaslike maatskappye en individue opgradeer.”
Morrison meen ná die aanvanklike ontevredenheid en ná gesprekke met Zoom Fibre en die kontrakteurs is plaaslike mense en die maatskappy nou op dieselfde blad. “Dit was moeilik en ons het koppe gestamp, maar dis die eerste projek van sy soort, dus sou haakplekke gewis voorkom. Ons wil nie hê maatskappye moet in die streek kom en plaaslike kontrakteurs uithou nie. Dit is belangrik dat ons aan die hand gevat word sodat sakelui na afloop van die projek beter daaraan toe is as voorheen.”



