Die ouers van Gino Dira (24) is hoopvol dat hy sal terugkeer huis toe.
Gino, ’n inwoner van Saldanha, word sedert Vrydag 29 Julie vermis, en die soektog na hom duur nog voort.
Volgens sy ma, Jamiela, het die dag soos gewoonlik normaal verloop en Gino het besluit om omstreeks 16:00 die Vrydagmiddag te gaan stap.
Sy ma sê dit is nie vreemd dat Gino smiddae te gaan stap nie en hy is nie die soort mens wat net sou wegbly nie. “Dié wat hom gewoonlik sien verbyloop, het hom nie weer sien terugkeer nie.”
Die Saldanhabaai-munisipaliteit se burgemeester, André Truter, het in sy persoonlike hoedanigheid besluit om in te spring en sê dit is hartseer dat ’n moeder in Vrouemaand haar sit en bekommer omdat sy nie weet wat van haar seun geword het of waar hy is nie.
Truter het Weslander meegedeel dat daar ’n geweldige gemeenskapsreaksie was en almal het ingespring om met die soektog te help.
“Ek is nederig as ek sien hoe ons gemeenskap in ’n tyd soos hierdie saamstaan. Tot dusver is egter nog geen spoor van hom gekry nie,” vertel Truter.
Gino verjaar Saterdag (13 Augustus) en word 25.
Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder bevestig dat die soektog voortduur en dat daar nog geen leidrade is nie. . Enigiemand met enige inligting oor sy verdwyning kan die Saldanhabaai-polisie by 022 714 8333 skakel.





