’n Jong konstruksiewerker is verlede Vrydag op ’n bouperseel in Saldanha in ’n voorval wat as ’n “fratsongeluk” beskryf word, dood.

Volgens AO Yolanda Kotze, ’n plaaslike polisiewoordvoerder het die voorval Vrydagoggend 12 Augustus op die konstruksieperseel van die Four Oceans-kompleks in Henchcliffstraat langs die polisiekantoor plaasgevind.

Na wat verneem word, was die twee werkers van ’n Kaapse kontrakteursfirma Vrydagoggend besig om in ’n ondergrondse pyp op die konstruksieperseel te werk, toe die betrokke pyp skielik vol water geword het.

Met die polisie se aankoms op die toneel is hulle ingelig dat twee werkers in ’n watergevulde pyp in ’n gat in die grond vassit.

Volgens een van die talle ooggetuies het die owerhede sowat vyf ure lank gespook om die twee mans uit die pyp te bevry. Swaar masjinerie soos ’n laaigraaf en ’n graafmasjien is ingespan, asook watertenke, pomp en suiers om die water uit die gat te dreineer.

Daar is ook ingespring om met emmers water uit die gat te skep.

Kotze het bevestig dat al twee mans uiteindelik uit die pyp verwyder is, maar dat net een die nagmerrie-ervaring oorleef het.

Die oorlewende is gehospitaliseer en is reeds ontslaan, maar Ronan Serfontein (20) van Kaapstad het tragies in die voorval gesterf.

Hoewel verdrinking waarskynlik die oorsaak van Serfontein se dood is, “moet ’n mens nie bespiegel nie,” het Kotze gemaan.

Die lykskouingsverslag wat die oorsaak van die jong man se dood moet bevestig, moet eers deur die polisie ontvang word.

’n Geregtelike doodsondersoek is by die Saldanha-polisie ingestel.

Saldanhabaai-munisipaliteit se burgemeester André Truter het sy medelye aan die familie van die oorledene uitgespreek en aan Weslander gesê “wat gebeur het is betreurend. Ek hoop ’n volledige ondersoek sal ingestel word.”

Truter het ook sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die munisipaliteit se brandweerdiens-reddingspan, munisipale amptenare, die polisie, Weskus-reddingsdienste en lede van die gemeenskap wat saamgespan het om die lewe van die twee werkers te probeer red.

Hy het in besonder melding gemaak van die brandweerhoof Basil January en Leon Karolus, ook van die brandweer, vir die belangrike rol wat hulle gedurende die reddingspoging gespeel het.

Weslander het uitgereik na Serfontein se familie vir kommentaar, maar teen druktyd is nog geen reaksie ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article