Die Saldanha-polisie se slagofferondersteuningskamer het vandeesweek ’n opedag gehou waar die vrywilligers Doreen Fama, Betty Pane en Jacqueline Mathebula saam met die polisiewoordvoerder AO Yolanda Kotze gewys het hoe die slagoffers van misdaad ondersteun word.


Gevoelloosheid, vrees, hulpeloosheid en woede.

Mense ervaar dikwels hierdie emosies nadat hulle die slagoffer van ’n misdaad geword het.

“Dit maak nie saak watter soort misdaad dit is nie – om ’n slagoffer daarvan te word, is altyd traumaties,” sê AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie.

Hoewel die meeste mense nie langtermyn- emosionele gevolge ná ’n inbraak of diefstal oorhou nie, rig geweldmisdade soos verkragting, aanranding en huishoudelike geweld aansienlike skade, nie net fisiek nie, maar ook sielkundig, aan.

Misdaad is nie net traumaties nie, die ondersoek en hofproses kan slagoffers ook verwar en verdere angstigheid of onsekerheid veroorsaak.

Dit is om hierdie rede dat die polisiediens vrywilligers inspan om slagoffers by te staan.

“Die meeste polisiekantore het ’n slagofferondersteuningskamer, maar mense weet nie altyd hulle kan van hierdie gratis en vertroulike diens gebruik maak nie,” verduidelik Kotze.

“ ’n Algemene wanindruk heers onder mense dat hierdie diens net vir vroue en kinders is wat slagoffers van gesinsgeweld is. Nee, die diens is vir mans ook en vir slagoffers van alle soorte misdaad.”

Die vrywilligers by Saldanha se slagofferondersteuningskamer by die Saldanha-polisiekantoor is 24 uur van die dag daar om te help.

Vandaar sal die vrywilligers slagoffers vir gespesialiseerde, mediese of maatskaplike hulp, soos nodig, verwys.

Slagoffers het nie altyd die vrymoedigheid om ’n misdaad aan te meld nie omdat hulle bang is vir viktimisasie of saam met hul aanvallers woon.

Volgens Kotze verduidelik die vrywilligers die hele regsproses aan slagoffers om hulle gerus te stel en sodat hulle kan weet wat om te verwag. Alles waaroor in die ondersteuningskamer gesels word, sal vertroulik en met sensitiwiteit hanteer word.

Kotze moedig misdaadslagoffers van Saldanha aan om dié diens te gebruik. Sy sê slagoffers van ander dorpe in die omgewing kan gerus by hul naaste polisiekantoor om hulp gaan aanklop, want die meeste polisiekantore bied slagofferondersteuning.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article