Die Weskus-streek van die SANParke-ereveldwagtersvereniging het vir hierdie blommeseisoen ’n eenvoudige blommegids ontwikkel. Die behoefte vir sodanige gids is in die verlede deur besoekers aan die streek uitgespreek. Hulle wil, afgesien van die blommeprag te besigtig, ook meer te wete kom oor die blomme wat hulle sien.
Die SANParke-ereveldwagters is ’n groep deeltydse, onbetaalde vrywilligers wat die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke ondersteun ten einde by te dra tot die volhoubare ontwikkeling, bestuur en bevordering van die biodiversiteit en erfenis-bates van die parke. Hierdie ondersteuning word uitgevoer deur projekte te help ontwikkel, geldinsameling om sodanige projekte te ontwikkel of om andersins die parke met voorafbepaalde en beplande behoeftes by te staan.
Die Weskus-streek se SANParke-ereveldwagters bedien hoofsaaklik die Weskus Nasionale Park en onderneem verskeie projekte in die reservaat. Ten einde die projekte – soos die instandhouding of opknapping van die voëlskuilings – uit te voer, is dit nodig om op geldinsameling terug te val.
Die nuwe eenvoudige blommegids is onder meer as ’n geldinsamelingsprojek aangepak, afgesien van die bydrae wat dit lewer om die besoekers se ondervinding te verryk.
Volgens Toni Tonin, een van die ereveldwagters wat by die ontwikkeling van die gids betrokke was, is die taak bemoeilik deur die feit dat meer as 1 200 blomspesies van ongeveer 100 plantfamilies in die Weskus voorkom. Die boekie het slegs plek vir 37 spesies gehad. Die besluit is derhalwe geneem om verteenwoordigende voorbeelde van soveel families moontlik vir insluiting te kies. Die samestellers het baie versigtig te werk gegaan om nie te veel gewig aan ’n enkele familie toe te ken nie en het probeer om van die mees ikoniese verteenwoordigers van die families wat in ’n normale blommeseisoen rondom Augustus en September voorkom, in te sluit.
Die oorhoofse doel van die publikasie is om die besoeker ’n kykie te gee na die besonderse botaniese diversiteit wat besoekers aan die Weskus Nasionale Park en omstreke bevoorreg is om te aanskou.
Plantname verskil van plek tot plek en van taal tot taal. So kan dieselfde plant of blom wat in meer as een streek voorkom, anders heet. Die meeste plante wat in die Weskus voorkom, het inheemse name gehad, wat ongelukkig met tyd verdwyn het. Die name wat dus in die boekie gebruik word, is verkry uit John Manning se gesaghebbende boek West Coast – South African Wild Flower Guide 7, wat deur die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika uitgegee word. Belangstellendes wat meer inligting wil bekom van ’n volledige beskrywing van die ryk blomme-bate van die Weskus, kan gerus hierdie bron naslaan.
Hierdie boekie dek die blomme wat in die Weskus Nasionale Park en die Langebaan-omgewing voorkom en is meer gerig op die besoeker wat as botaniese leek beskou kan word, eerder as ’n kundige. Die hoop is dat hierdie bydrae van die SANParke-ereveldwagters besoekers se ondervinding in die blommeseisoen sal verryk.. Hierdie berig is geskryf en saamgestel deur Dries Venter, voorsitter vir die Weskus-streek van die SANParke-ereveldwagters.





