Daniel Theart (in die rooi sweetpakbaadjie) kon die minderbevoorregtes help met die hulp van organisasies in die Weskus.


’n Seuntjie met ’n groot omgeehart – dit is die soort mens wat Daniel Theart is.

Dié 10-jarige het Saterdag 3 September in samewerking met die Malgas-Lionsklub en Saldanha Tafelronde in sy gemeenskap teruggeploeg.

Daniel het ’n doel geskep om 200 minderbevoorregte mense in sy gemeenskap met ’n maaltyd te help.

Volgens sy ma, Mary-Ann Redelinghuys, is Daniel altyd besorg oor mense wat op straat woon.

“Ek kan sien hoe sy kop sak elke keer wanner hy iemand sien bedel of op bokse slaap,” vertel sy.

Sy sê sy gesig verhelder as hy die geleentheid kry om die minderbevoorregtes te help, ongeag hoe klein die goeie daad is. Met die hulp van die Malgas-Lionsklub, Saldanha Tafelronde, vriende en familie kon 186 mense gevoed word.

Volgens Daniel wil hy graag help omdat hy die mense jammer kry en hom net kan indink hoe dit voel om honger te wees. “As dit ek was wat sonder kos moes wees, sou dit nie lekker gewees het nie. Dit is belangrik om hulle te help, want ons het dinge wat hulle nie het nie, en ons kán hulle help,” vertel Daniel.

Dawn Poole, president van die Malgas-Lionsklub, sê te veel mense glo hulle kan nie help nie. “Maar diens moet in ons jeug gekoester word, ongeag watter organisasie dit doen.”

Stefan Mostert, voorsitter van die Saldanha Tafelronde, voeg by die seuns gaan eendag die leiers van vandag word. “Ons moet almal leer om te gee waar dit nodig is,” sluit Mostert af.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article