’n Trap-politoermasjien wat in die 19de eeu gemaak is, is een van talle oudhede wat in die museum uitgestal word.


Die ryk geskiedenis van Hopefield moet gevier en altyd onthou word, meen Lizelle Strydom, bestuurder van die Hopefield-museum.

Strydom is die afgelope 12 jaar bestuurder van die museum en glo die stories oor die ontstaan van die dorp en daaglikse uitdagings wat die mense deurgemaak het om te oorleef, bied kosbare herinneringe. Sy self woon ook al 26 jaar op die dorp en is welbekend met sy geskiedenis.

Die Hopefield-museum bestaan reeds 25 jaar en dien ook as ’n inligtingsentrum vir sowel plaaslike inwoners as besoekers.

“Die stigters van die Hopefield-museum het destyds besef hoe belangrik dit is om die geskiedenis van die dorp te bewaar sodat mense altyd kan onthou hoe Hopefield ontstaan en ontwikkel het,” vertel sy. Met die intrapslag word ’n mens dadelik herinner aan wat Hopefield so uniek maak. Van die ou kameras, die ou skale waarop die koringsakke geweeg is tot plaasge­reed­skap en soveel meer.

Wat Hopefield so spesiaal maak vir Strydom is die feit dat almal mekaar ken en omgee vir mekaar. “Hopefield het daai plattelandse atmosfeer en dis baie rustig. Jy kan ’n hoender aanhou op jou erf sonder dat jou bure kla. Dan is daar ook die pragtige fynbos.”

Volgens Strydom is dit die verskeie stories en mense se weergawes van die dorp en wat hulle kan onthou, wat haar werk so interessant maak. Sy meen die Hopefield-museum gaan oor opvoedkunde en bied iets aan vir almal.

Die museum is oop van Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 16:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article