Ek het omtrent drie maande gelede aan die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) gerapporteer dat die straatligte in Loeriestraat, Louwville, nie werk nie.
Nog niemand van SBM het uitgekom om die probleem op te los nie. Intussen mors die skelms met die drade. Ek bekommer my oor die veiligheid van my gesin, juis omdat dit in die aand so donker in die straat is sonder die straatligte. Iets moet hieraan gedoen word.
Freddie van Rensburg,
Louwville
Drie foutiewe straatligte in Loeriestraat is op die stelsel aangeteken, waarvan meneer Van Rensburg se klagte Dinsdag 13 September ontvang en aangeteken is. Ses lamppale is weens vandalisme heeltemal gestroop van alle elektriese drade en beskermingsmateriaal. Die nodige materiaal en toerusting is reeds bestel. Herstelwerk behoort teen einde September of vroeg in Oktober afgehandel te wees as die materiaal en toerusting afgelewer word. – Ethne Lawrence, woordvoerder van SBM.