Saldanha gaan tans gebuk onder ’n vlaag inbrake by sakeondernemings.
Volgens AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, is sewe inbrake by plaaslike sakeondernemings sedert 9 September by die Saldanha-polisiekantoor aangemeld.
Die Saloetie-kleuterskool is op 11 September om 04:30 in kennis gestel dat iemand by die skooltjie ingebreek het. ’n Venster is gebreek om toegang tot die perseel te kry. Kotze sê drie radio’s, kos en toiletware is gesteel.
Iemand het Mandag 12 September in die donker oggendure by die Saldanha-biblioteek ingebreek en die instansie se rekenaars, rekenaartoerusting, mikrogolfoond en skoonmaakmiddels weggedra.
MCK Engineering in Saldanhaweg is die oggend van 13 September geteiken. Iemand het die werkswinkel se deur oopgedwing en ’n slypmasjien en sweiswerk-toerusting gesteel.
Later die aand op dieselfde dag is by Shoprite Saldanha ingebreek en twee batterye ter waarde van R4 000 is gesteel.
Werkers van Pep Stores in Saldanha het verlede week ontdek iemand het probeer inbreek, maar nie daarin geslaag nie.
Die personeel van die winkel is die oggend van 14 September na die stoorkamer om die kragopwekker te gaan uithaal toe hulle ontdek iemand het die deur probeer oopbreek, maar kon nie toegang verkry nie.
Niks is gesteel nie.
Iemand het ook by ’n kerk in Middelposrylaan ingebreek. ’n Venster van die kerk is uitgehaal om toegang tot die gebou te kry. Die inbraak is op 15 September ontdek. Elektriese kabels ter waarde van R10 000 is uit die gebou verwyder.
MCK Engineering het weer op 19 September deurgeloop. Die werkswinkel se deur is weer oopgedwing en hierdie keer is gereedskap ter waarde van R40 000 gesteel.
AO Kotze doen ’n dringende beroep op plaaslike sakelui om die veiligheid by hul ondernemings te verbeter, seker te maak alle veiligheidsmaatreëls word toegepas en dat personeel goed oor hierdie reëls ingelig is.
Sy nooi ook sakelui om betrokke te raak by die buurtwag en gemeenskapspolisiëringsforum.


