Om in hierdie dae ’n ekonomie- artikel te skryf wat nie raakpunte met elektrisiteit het nie, is byna ondenkbaar. Dit is soos om die olifant in die kamer te ontken.
Ek kyk nou die dag op die beurtkrag app hoeveel tyd ons op ’n dag weens beurtkrag verloor. Op daardie spesifieke dag was die krag op vlak 5 vir 9½ uur af. Op vlak 6 sou dit 11½ uur wees en op ’n moontlike vlak 8 sou dit 13½ uur gewees het; net meer as helfte van die dag.
Deesdae werk feitlik alle huishoudelike toestelle met elektrisiteit. Toe ek ’n kind was, was ’n transistorradio ’n groot vooruitgang en dit kon met krag of batterye werk. Nou werk al my radio’s en musiektoestelle net met elektrisiteit. So tensy ’n mens een of ander sonkrag gekoppelde batterystelsel of kragopwekker het, kan jou wêreld nogal stil raak.
Baie besighede het deesdae kragopwekkers, maar die hoë brandstofprys laat hul kragrekeninge die hoogte in skiet. Party dae is die krag gedurende normale werksure skaars vyf uur lank aan. Die skade aan die ekonomie is enorm.
Eskom besluit wie sal wanneer en waar kragvoorsiening hê en die verbruikers moet maar aanpas. Maar wat is die verbruikers se ervaring van wat ons moontlik ’n “kragloosheid-pandemie” kan noem?
Op Facebook lees ek wat ’n vriendin in die spysenieringsbedryf sê: “Ek is ‘daardie glas is half vol’ mens (iemand met ’n positiewe ingesteldheid). Na ’n ‘hectic’ naweek slaap ek sleg . . . en om dan wakker te skrik en die krag is af . . . in die ‘catering’-bedryf is dit nie meer snaaks nie. Die gedurige planne maak, maak my gek.” Iemand se kommentaar daarop: “Ek kry skaars kosgemaak vir twee, wat nog te sê ‘catering’ vir baaaaie.”
Iemand anders reken: “Glad nie meer snaaks nie. Dit laat ’n mens se bloeddruk styg en jy is pal gestres.” Nog een sê: “Jip, ons is mos georganiseerd. Met die skielike bevliegings van Eskom raak mens se senuwees gedaan.”
Volgens ’n berig op Netwerk24 het ’n restauranteienaar genoem dat dit hom R10 000 in 10 dae gekos het om sy kragopwekker te gebruik. Ek weet van restaurante wat al begin het om hul deure tydens beurtkrag te sluit omdat hulle dit nie kan bekostig om vir sulke lang ure hul eie krag op te wek nie. En dit nadat die restaurantbedryf reeds swaar gebuk gegaan het onder die Covid-19-pandemie.
Ja, sonder krag word die ekonomie gekniehalter en besighede ly groot finansiële skade. Volgens die Sakeliga kan volgehoue beurtkrag op vlakke wat tussen 4 en 6 wissel aanleiding gee tot ’n daling van tussen 5% en 10% in die land se Bruto Binnelandse Produk (BBP). Dit kan tot veel groter werkverliese lei in ’n ekonomie wat reeds steier onder rekordhoë werkloosheidsyfers.
’n Vriend van my wat ingeboude kaste bou, noem dat hy op dae wat die krag te lank gaan af wees, nie sy werkers laat werk toe kom nie. Hy sê hy kan dit nie bekostig om hulle vir ’n volle dag te betaal as hulle net drie of vier uur sal kan werk nie. Vir baie besighede beteken geen elektrisiteit dat geen handel plaasvind nie en het hulle geen keuse as om hul arbeidsmag te verklein nie.
So, hoe lyk die pad vorentoe?
Daar is twee belangrike groeperings wat elk ’n rol in hierdie krisis speel.
Eerstens is daar die regering wat ’n sleutelrol speel in die bestuur en bedryf van Eskom. Hul politieke agenda laat egter ekonomiese beginsels en goeie dienslewering aan die agterspeen suig. Ongelukkig is dit soos ’n reuse meulsteen om die nek van elke Suid-Afrikaner.
Aan die ander kant is daar die privaatsektor en verbruikers wat daarna smag om net te sien dat alles werk. Hoewel daar baie private instansies is wat graag ’n bydrae tot die nasionale kragnetwerk wil maak, word hulle tot dusver verhinder.
Met die krisis wat ons tans beleef, het dit nou dringend noodsaaklik geword dat die regering sal begin hande vat met die privaatsektor. Ons politici word verkies om die land op so ’n wyse te dien dat Suid-Afrikaners die beste voordeel daaruit kan kry. Dit is egter myle verwyder van wat ons tans beleef.
. David Malherbe is ’n besigheid- en loopbaankonsultant van Langebaan. Kontak hom gerus by davidmalherbe1@gmail.com



