Vier mense is Dinsdag in verband met die moord op Bernard (Bernie) Pedro (64), ’n sakeman van St. Helenabaai, in hegtenis geneem.
Nog inhegtenisnemings word verwag.
Pedro is Vrydagaand (14 Oktober) vermoor vermoedelik nadat ’n rooftog by sy sakeonderneming skeefgeloop het.
Die liggaam van die sakeman en mede-eienaar van BP Marine in St. Helenabaai is Saterdagoggend deur personeellede in die winkel ontdek.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het die voorval iewers ná 22:00 plaasgevind nadat Pedro se broer, die ander eienaar, reeds die perseel verlaat het. Helfrich sê Pedro is oorrompel. Die slagaar in sy regter bobeen is met ’n mes raakgesteek en daar is verskeie steekwonde in sy rug gevind. Daar is ook skote op die perseel afgevuur en drie skietwonde is aan Pedro se liggaam gevind.
Kringtelevisiekameras het twee verdagtes by die winkel afgeneem, maar die polisie het aanvanklik vermoed dat nog verdagtes betrokke kon wees.
Die vermoede is gou bevestig soos die ondersoek gevorder het.
“Die volgehoue toewyding van die ondersoekbeampte het gelei tot die inhegtenisneming van ’n man (29) en ’n vrou (18) om 14:00 Dinsdagmiddag,” het Helfrich in haar amptelike verklaring aan Weslander verduidelik.
“Hul ondervraging het gelei tot die inhegtenisneming van nog twee verdagtes, onderskeidelik 37 en 35 jaar oud.”
Volgens Helfrich is die verdagtes se huise deursoek en ongelisensieerde ammunisie is in die een verdagte (37) se woning in Steenberg’s Cove gevind.
Hy het ook aan die polisie erken dat die groep vooraf beplan het om die sake-onderneming te beroof.
Die vier verdagtes sou na verwagting later vandeesweek in die plaaslike landdroshof verskyn.
Generaal-majoor Sizakhele William Dyantyi, die Weskus-polisiedistrik se kommissaris, het die betrokke polisielede en veral die drie lede wat van diens af was, maar die ondersoekbeampte bygestaan het in die ondersoek, bedank vir hul opoffering en deursettingsvermoë om geregtigheid te laat geskied.
Pedro se broerskind, Jayne Pedro, het in haar amptelike skrywe aan Weslander namens die familie gesê haar oom het in die vroeë 1990’s by BP Marine aangesluit en dat hy nog altyd “toegewyd ten opsigte van die sukses van die uitbreiding van die besigheid” was.
“Hy was ’n regverdige mens, ’n familieman en enig in sy soort,” het sy gesê.
Boodskappe van medelye stroom sedert die slegte nuus Saterdag bekend geraak het, op sosiale media in. Kennisse en kliënte het Pedro as ’n “ikoon van die plaaslike visbedryf” beskryf.





