Om die leerders meer insig te gee oor skaak, was die doel van Laurenzo Fortuin se besoek.
Fortuin is sedert Julie 2022 president van Weskus-skaakunie, en het Donderdag 13 Oktober besoek afgelê by St. Boniface Primêr om die leerders meer oor skaak te leer. Fortuin was self ’n skaakafrigter by die skool in die vroeë 2000’s en kan met trots vertel van die sterk spelers wat die skool destyds gehad het.
Hy het die vele voordele wat skaak bied, aan die leerders voorgehou en hulle versoek om die gloriejare van skaak by St. Boniface Primêr te laat herleef.
St. Boniface Primêr is die mees noordelike skool in die Weskus-distrik. Fortuin voeg by dit is vir die Weskus- skaakunie belangrik dat hul ontwikkelingsprogramme die agtergeblewe en afgeleë gebiede moet insluit. “Ons kan nie sê ons dien die Weskus terwyl ons geen voetspoor het in die mees noordelike Bo-Weskus nie. Ons sal daarom saam met die Weskus-skoleskaak-unie, sekere skole prioritiseer, hulle stelselmatig deel maak en verseker ons geliefde spel is toeganklik vir meer kinders reg oor die Weskus.”
Die hoof, Hester Jonkers, het haar dankbaarheid oor die besoek uitgespreek en genoem as gevolg van afwesigheid van fasiliteite is sportkodes tot slegs sokker en atletiek beperk.
Die skool het ook trots aangekondig dat Rhaynique de Wee die skaakafrigtingspan in die afsienbare toekoms gaan lei.
Jonkers het bygevoeg die skool is dankbaar vir die intervensie van die Weskus-skaak-unie. “Ons glo met hul hulp kan ons weer St. Boniface Primêr die krag maak wat ons voorheen was. Ons benodig egter demonstrasieborde en klokke.”
Mense wat die inisiatief wil steun, kan Jonkers skakel by 027 495 0050 of e-pos stuur na stbonifaceprimer@gmail.com.





