Daagliks hoor ons van klagtes oor werkloosheid, frustrasies van te min geleenthede vir vaardigheidsontwikkeling en ’n swak ekonomie.
Tog spog ministers gereeld oor die verskeie projekte en programme wat gestig is om Jan Alleman te help. Só ook het dr. Blade Nzimande en ander hooggeplaastes vertel van die ontwikkelings waarmee hulle besig is.
Êrens val die pap op die grond, want hoewel die geleenthede daar is, blyk dit talle Weskussers weet nie wat vir hulle – dikwels gratis – beskikbaar is nie. Dit help nie dat dit soveel tyd en energie verg om werklik van die geleenthede gebruik te maak nie. Vra enige entrepreneur hoeveel vorms ingevul moet word net om aan die mees basiese voorskrifte te voldoen, en hulle sal sug. Vra enige Weskus-student wat dit geverg het om by ’n tersiêre instansie aansoek te doen, en hulle sal sê hulle is van bakboord na stuurboord gestuur.
Meer moet gebeur om die geleenthede aan die publiek bekend te stel, maar daar rus ook ’n verantwoordelikheid by Jan Alleman om die geleenthede aan te gryp en die beste daarvan te maak. Dít sal die enigste manier wees vir die Weskus en sy inwoners om te floreer.




