’n Man wat ’n Transnet-vragmotor bestuur het en ’n werknemer by ’n vulstasie in die Cederberg- munisipale gebied is in hegtenis geneem in verband met vermoedelik gesteelde diesel ter waarde van R150 000.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, is 600 liter diesel Vrydag 21 Oktober skuins ná 12:00 by die betrokke vulstasie afgelaai.
“Volgens ’n betroubare bron gebeur dit gereeld dat diesel daar afgelaai word en die hekke dan gesluit word,” het Helfrich verduidelik.
Die bestuurder van die vragmotor is in die omgewing van Dwarskersbos onderweg in die rigting van Velddrif voorgekeer nadat ’n beweerde transaksie plaasgevind het. Die polisie het hom terug na die plek begelei waar die brandstof afgelaai is, waarna ’n werknemer van die vulstasie saam met die vragmotorbestuurder op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere in hegtenis geneem is.
Transnet het aan die polisie bevestig dat geen van hul voertuie ’n geskeduleerde aflewering vir daardie dag in die betrokke omgewing gehad het nie. Albei mans het Maandag (24 Oktober) in die plaaslike landdroshof verskyn.
Volgens Lipuo Lebakeng, ’n woordvoerder van Transnet, werk die vragmotorbestuurder vir die spoorvrag-afdeling van Transnet. Sy kan egter nie verder uitbrei oor die saak voordat die ondersoek voltooi is nie.




